Ek sien dit so!

Hierdie week wil ek my rubriek begin met ‘n stukkie wat deur my beste vriend geskryf is.
“Hier aan die suidpunt van Afrika, ver verwyderd van die beskaafde kontinent van Europa, leef en stry ‘n handjievol blankes. Hulle noem hulself Boere, ander verkies die term Afrikaner, hulle is die nasate van die Voortrekkers en die Bittereinders, nasate van die vroue en kinders wat die Engelse helkampe oorleef het. Selfs al dwaal die oorgrote meerderheid van hul eie mense op duister paaie, bly hierdie groepie getrou aan hulself en hul volk se verlede. My hart wil uit sy nate bars van trots wanneer ek dink aan hierdie hedendaagse Bittereinders, karaktervol en gegrond, stry hulle voort met Boeretrots in hul harte. Hierdie is die mense by wie ek myself skaar, saam met hierdie mense sal ek in ‘n loopgraaf klim. Wat ‘n eer en voorreg om myself as deel van hierdie groepie te mag ag. Lank lewe die Transvaalse Vierkleur, lank lewe die Vrystaatse Vierkleur, lank lewe die Kaapse Vierkleur, lank lewe die drang na Vryheid!!!!”

Dit het my aan’t wonder gesit, wie is hierdie handjievol stryders?

Daar is organisasies wat sê hulle soek die hele Suid-Afrika en niks minder nie. En tog doen hulle net mooi niks, behalwe natuurlik om ander wat wel iets doen, heeltyd te kritiseer. Die hele land gaan seker vanself uit die lug uit val in hul hande, die wag-spel, hul gunsteling tydverdryf, en dit terwyl hul eie mense voor die voet uitgemoor word.

Dan is daar diegene wat deelneem aan die “Demokratiese” verkiesings. Hulle argument is dat hulle iets doen, en dat jy wat nie daar gaan stem nie, geen reg het om te kla oor enigiets nie. Nogal buitensporig, want neem jy deel, erken jy die heersers wat jou mense onderdruk. Ek sou dink dat jy juis kan kla omdat jy nie gaan stem nie, jy is mos nie deel van die sirkus nie.

Nog ‘n groepie is die oogklap mense, hulle wil niks sleg sien nie, hulle neem nie deel aan duiwelse verkiesings nie, hulle neem nie deel aan enige vryheidsaksie nie, hulle is maar net hier. Ek kan myself nie indink hoe dit moet wees om die lewe so te sien nie, of eerder nie te sien nie.

En toe kry ek die antwoord. Hierdie stryders is doelgerigte mense wat nie skroom om te veg vir hul taal en hul mense nie. Hulle is bereid om hul stemme uit te bring vir ‘n eie Boere-Afrikanervolksraad, hulle vrees geen mens of barbaar, die bloed in hul are verskil van bogemelde volksgenote se bloed. Daar is iets rondom hierdie mense waarop jy net nie jou vinger kan sit nie. Doelgerig stry hulle vir wat hul toekom. Inderdaad is hulle hedendaagse Bittereinders!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie