Ek sien dit so!

Kry jy skaam? Jy wat sonder om tweekeer te dink, by Woolworths instap en jou hardverdiende geld te gaan oorhandig? Besef jy dat hulle jou vir die gek hou? Jy en jou mense word verbied om daar te werk, dan moet jy seker ook verbied word om daar te koop.

Hoewel vele mense uiteenlopende menings het oor die sogenaamde “Woolies-boikot”, sien ek dit as ‘n positiewe stap, mits dit volgehou word totdat daardie winkel sy deure sluit en landuit vlug. Een van die argumente teen hierdie aksie, is dat ander kettingwinkels hulself ook skuldig maak aan rassistiese arbeidspraktyke. Ja, ek reken dit is waar, maar moet mens nie iewers begin nie? Dis moeilik genoeg om een winkel te boikot, wat nog te sê almal?

Indien ons mense egter nou saamstaan, en hierdie aksie deurvoer tot aan die bittere einde, sal dit tot gevolg hê dat hierdie volk weer besef: Ons kan saamstaan en ons kan deur eenheid sukses behaal. Kom ons jag een olifant op ‘n slag, indien ons tien olifante gelyk jag, gaan hulle ons vertrap.

Verlede week, lees ek van die Rustenburgers wat so mooi saamgestaan het. Die Woolworths daar was besaai met volgelaaide trollies, maar geen betalende klant nie. Terloops, welgedaan Rustenburg! Nou moet die res van die land volg met sulke aksies. In my kontrei is daar nie minder nie, as drie Woolwoths winkels. Ek het reeds ‘n paar manne opgekommandeer vir ‘n uitstappie na almal van hulle. Soos ‘n klein seuntjie, sien ek uit na die groot dag waarop ons aan hulle gaan wys dat die Boere nie sonder ‘n geveg sal gaan lê nie.

Die hartseer van die saak is egter, dat sekere organisasies hierdie aksie uitbyt om gratis advertensie hieruit te bekom. Laat diesulkes maar voortgaan op hul ou trant van beginsellose dade, en laat die beginselvaste volksgenote hierdie aksie deurvoer omdat dit vir ons ‘n beginselsaak is.

Moenie terugdeins nie, hou vol met die houe, hy wat aanhou sal immers wen. Wanneer Woolworths om verskoning vra, begroet dit met nog ‘n paar volgelaaide trollies wat net daar gelos word. En moenie vergeet om ‘n nota by te sit wat verduidelik dat as hulle nie jou mense agter die toonbank soek nie, hulle nie op jou mense se geld moet staatmaak nie.

Laat die pret begin!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie