Ek sien dit so!

Soos ek nou hier sit, dink ek aan baie dinge…sien ek baie dinge. Meeste mense dink aan, en sien seker ook, baie dinge. Meeste mense hoef egter nie daardie dinge te verwoord op so ’n wyse dat dit leesbaar, en miskien effens vermaaklik, vir ander is nie.

Die groot nuus van die afgelope naweek is sonder twyfel die koelbloedige moord op een van die beste boksers wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Corrie Sanders, jy is een van vele op hierdie lysie, net nog ‘n naam op die lys van mense wat die hoogste prys moes betaal, in ‘n land waar die kleur van jou vel, die verkeerde kleur is. Wat die uiteinde van hierdie verhaal sal wees – wel dit sal ek nie kan sê nie.

Ons sit met ‘n probleem, daar is derduisende blankes wat krepeer in arm blanke nedersettings. Ons mense word voor die voet uitgemoor deur barbare. Ons jongelinge sukkel om die arbeidsmark te betree vanweë hul velkleur. Ons bejaardes word geteister en gemartel. Ons vroue word op strepe verkrag. Ons volk se kinders word die reg ontneem om behoorlike opvoeding in staatskole te kry. Miskien moet ek die begin van hierdie paragraaf verander. Ons sit nie met ‘n probleem nie, ons is kniediep in daardie goed wat onaangenaam ruik!

Terwyl al hierdie nare dinge om ons afspeel, is daar steeds mense wat op 24 September wil braai. Waarom wil hul braai? Omdat een van die wesens wat verantwoordelik is vir hierdie jammerlike situasie, gesê het hulle moet op daardie dag braai! Is dit nie belaglik nie? Moet ons nou soos ‘n klomp gebreinspoelde swape braai om te vergeet van al die “negatiewe” dinge wat met ons medemens gebeur? Nie ek nie! Ek het Sondag gebraai, op die 23ste, sommer omdat ek lus was. Wie is hierdie skepsel om aan my voor te skryf wanneer ek moet braai?

Aan die anderkant van die muntstuk is daar die eenjarige herdenking van ‘n verkiesing, ‘n verkiesing waarin daardie deel van die Boere-Afrikanervolk wat vryheid in woord en daad nastreef, gestem het vir hul eie Volksraad. Miskien moes ek maar gebraai het op 24 September, ‘n braai om daardie grootse gebeurtenis te vier. Die stryd gaan egter voort, ons mense wat vryheid en veiligheid vir hul kinders nastreef, en wie nog nie geregistreer het op die Volksraad Verkiesing Kommissie, oftewel VVK, se kieserslys nie, moenie op u laat wag nie! Besoek vandag nog die VVK se webtuiste by www.vvk.co.za en kry uself op daardie kieserslys, gee uself ‘n eerbare rede om dan in die vervolg op 24 September te braai.

Boeregroete,

Kordaat Neelsie