Egiptiese Christen het die rolprent gemaak

Basseley Nakoula beweer hy is die regisseur van die omstrede rolprent wat teen Islam gekant is en sê hy sal nooit spyt wees dat hy die film gemaak het nie.

“Nee, ek is nie spyt nie. Ek is hartseer oor die moord op die ambassadeur, maar ek is nie spyt ek het dit gemaak nie,” sê die Egiptiese Koptiese Christen wat in Kalifornië, VSA woonagtig is.

Talle Amerikaanse ambassades in Oosterse lande loop op die oomblik deur onder die gewelddadige aanslae van Islam gelowiges. Amerikaanse vlae word geskeur en in openbare plekke gebrand deur Islam gelowiges wat daardeur hulle ontevredenheid demonstreer. Selfs die minister van buitelandse sake Hillary Clinton, moes vure doodslaan om vêrdere terreur te probeer verhoed.

’n Spesiale verslaggewer in die VSA het aan Die Vryburger gesê dat die moontlikheid nie uitgesluit is dat die rolprent gemaak is met die doel om nog ’n aanval, soortgelyk as die September Elf geval, op die VSA uit te lok nie.

Die bom dreigemente wat tans chaos veroorsaak by tientalle universiteite in die VSA kan die voorloper wees tot ’n nuwe aanslag, het hy gesê.