Drie krone vir ’n kort rukkie

Die Suid-Afrikaanse krieket span het vir ’n kort rukkie die kroon in al drie vorms van krieket gedra. Hulle het reeds die 20/20 kroon gedra en het met die onlangse toetsreeks in Engeland die toetskrieket kroon van die bleekbene verower nadat hulle die toetsreeks gewen het.

Die blommetjies is tans besig met die eendagreeks teen Engeland. In die reeks van 5 wedstryde, het die eerste een onbeslis geëindig nadat reën die laaste sê gehad het. Verlede Dinsdag het die blommekinders die septer geswaai na ’n 150 tal deur Hashim Amla.Dit het hulle in staat gestel om met 80 lopies te wen. Met hierdie oorwinning het hulle die Engels ook verby gesteek as die beste eendag span in die wêreld.

Dit was egter van korte duur.

Vrydag het die Engelse terug geveg en die wedstryd met 4 paaltjies gewen en sodoende weer die top posisie op die wêreldranglys ingeneem. Sondag het die Poms weer geseëvier en die Blommetjies is afgeransel met 6 paaltjies.

Die Blommekinders sal soos Bokke moet speel in die laaste oorblywende wedstryd in die reeks, maar dit sal neusie verby wees om weer boaan die ranglys te eindig.