Dolfyn red branderplank ryer.

Elke Schoeman (41), ’n branderplankryer van Jeffreysbaai, het benoude oomblikke beleef toe sy verlede Saterdag by Lower Point op haar branderplank geroei het.
Sy het vir haar vriendin Susan Botha, wat op die strand met haar hond geloop het, gesê sy is op pad om uit te kom en huis toe te gaan.
“Die volgende oomblik het ek ’n beweging langs my in die water gesien. Dit was ’n kleinerige dolfyn. Dié het ewe rustig langs my geswem en ek het gedink hoe mooi dit is.”
Kort daarna het die water voor haar begin maal en het sy ’n groot swart voorwerp gesien. Sy het besef dit was ’n haai.
“Alles het so vinnig gebeur. Ek weet nie of die dolfyn gebyt is nie, maar die twee het mekaar gejaag en daar was ’n bloedstreep. Kort daarna was daar weer kalmte. Ek het die dolfyn nie weer gesien nie.”
“In my hart glo ek dat beskerm is deur engele en die dolfyn. Ek kan nie met sekerheid sê watter soort haai dit was nie, behalwe dat dit groot was.”