Die trane die rol oor jou bokkie!

Die arme Sprinbok ondersteuners is teen hierdie tyd seker al almal erg depressief. Die bokkies het die naweek weer die knie gebuig voor die manne van die land van die lang wit wolk. Die eindtelling was 21-11. Die hoof bul oppasser kry nie hond haar-afgemaak met die bokke nie. In ander media is die oppasser aangehaal dat hardloop rugby net ’n flieks werk. Sy taktiek van skop en hoop werk blykbaar nie eers in flieks nie, wat nog te sê van gras!

Hierdie naweek was dit weer dieselfde storie. Sodra die agterlyn die bal kry, soek almal ’n verskoning om hom weg te skop, net sodat die gevaarlike All Black agterlyn aanvalle kan loods. Die Kaapse klong het eenkeer die bal mis gevang met omtrent vyf tree van die doellyn af, met niemand voor hom nie. ’n Ander keer het hy die bal ook vyf tree van die kalk lyn af aangeslaan. Gelukkig vir die klong se ondersteuners, het hy later ’n drie gedruk. Dus is al sy geploeter hom vergewe vir die volgende vyf wedstryde.

Die manne wat week na week die paviljoene vol sit begin ook erg mor oor die bok losskakel wat deesdae meer amper raak as amper mis skop. Dis nou almal behalwe die mense wat soos smurfies aangetrek is. Hulle kan nog nie fout vind met die held van Loftus nie.

Dan was daar nog die geval waar een van die groot smurfs die All Black kaptein met ’n voorarm geslaan het. Om dit te kon vermag, het hy op ’n hoek van 90 grade die losskrum gestorm, oor die hopie geduik en die kaptein teen die kakebeen getref. Dit het die treurmare voortgesit vir die bokke, omdat die groot smurf eers vir tien minute moes gaan rus. Hy kan heerlik uitrus, veral na ’n tugkomitee besluit het hy mag nie vir die volgende twee weke rugby speel nie.

Vir al die bok aanbidders kan net sterkte toegewens word. Julle kaptein en die bok oppasser reken albei dat daar geen fout is nie…

In ander rugby uitslae die naweek het die Transvalers met die soort hardloop rugby wat net in flieks werk, die Vrystaat met 38-23 verslaan.
Die slegte nuus vir die manne in Smurfieland is nie net in die bokkraal nie. Hulle Curriebeker span het ook teen die Griekwas verloor met ’n vernederende telling van 49-34.
In ’n sopnat Durban, waar die veld feitlik onder water was, kon die Natallers beter swem as die Kapenaars. Die telling was 43-27.