Cosatu-ANC spanning verhoog oor e-tol

Zwelinzima Vavi, die algemene sekretaris van Cosatu, het onderneem om “met alle mag waaroor ons beskik” sie e-tol-projek teen te staan.

“In ons siening sal dit ‘n reuse-fout deur die regering wees as hy voortgaan op die basis van die uitspraak deur die grondwethof om dit wat ons almal weet ‘n baie ongewilde beleidsbesluit is, te implementeer,” het hy gesê.

“Ons sal dit met al die mag waaroor ons beskik teenstaan.”

Vavi het met verslaggewers tydens Cosatu se nasionale kongres in Midrand, Johannesburg gepraat en daarop gewys dat Cosatu vasbeslote is om die e-tolstelsel op straatvlak teen te staan. “Die mobilisasie is nie verby nie,” het hy gesê.