China bedreig S.A. se ekonomie

Volgens ‘n verslag van die Universiteit van East Anglia het goedkoop produkte uit China die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die afgelope tien jaar met meer as $900 miljoen benadeel. Dit het ook ‘n verlies van 77 000 werksgeleenthede tot gevolg gehad. Volgens professor Rhys Jenkins is die verlies aan werksgeleenthede veroorsaak deur afleggings, sluiting van produksie-aanlegte en fabrieke wat moes oorskakel na groter outomatisasie om arbeidsintensiewe werk te vervang wat moes meeding met die goedkoper Chinese arbeid.

Volgens die verslag is Suid-Afrika ook benadeel deurdat sy uitvoere na sy tien grootste handelsvennote in Afrika (Mozambique, Zambia, Zimbabwe, Kenya, Angola, Nigerië, Tanzania, Malawi, Ghana en die Demokratiese Republiek van Kongo) met 10% skade gelei het waar die goedkoper Chinese produkte verkies is bo die Suid-Afrikaanse produkte. Alhoewel uitvoere na die betrokke Afrikalande gestyg het, het S.A. se markaandeel verlaag terwyl China se markaandeel toegeneem het. China se uitvoere na die sub-Sahara streek van Afrika het vanaf 2001 tot 2010 toegeneem van $4,1 miljard tot $53,3 miljard.

Suid-Afrika se handelsbalans met China het ook oor die afgelope tien jaar verander ten gunste van China. Suid-Afrika se uitvoere is hoofsaaklik grondstof verwante produkte, terwyl die invoere uit China vervaardigde produkte is. China se markaandeel in S.A. se skoeiselbedryf is 46%, terwyl dit meer as 30% is vir elektroniese toerusting.

Die vraag word al hoe meer gevra of Suid-Afrika se lidmaatskap van die BRICS lande nie tot sy eie nadeel is nie deurdat die land nie in dieselfde liga tuishoort nie.