Barcelona Waarsku Madrid: Betaal of Katalonië breek weg.

Elke jaar op die 11de September neem die inwoners van Barcelona die strate oor om die sardana te dans, oor hulle vyande se bloed te sing in hulle volkslied “Els Segadors” en politieke slagspreuke te skree. Op die dag vier hulle hulle nasionale dag, die Diada de Catalunya.

Maar hierdie jaar was daar ‘n nuwe intesiteit in hulle nasionalistiese gevoel. Die vlag van die beweging wat stry vir die onafhanklikheid van Katalonië, ‘n wit ster teen ‘n blou driehoek het die streek se amtelike geel en rooi gestreepte banier in getalle oortref.

‘n Pro-onafhanklikheidsmars wat in die verlede nooit meer as 50 000 mense getrek het nie, het hierdie keer ‘n massa van ongeveer 1.5 miljoen bymekaar gebring. Elke koerant in die stad wat ‘n meningsopname gemaak het, het tot hulle skok ontdek dat die helfte van die inwoners van Katalonië afskeiding van Spanje voorstaan.
Volgens Soledat Balaguer, ‘n lid van die sekretariaat van die Katalaniese Nasionale Raad, wil Katalonië afstig want hulle wense word totaal geïgnoreer. Hierdie drang tot onafhanklikheid, anders as in die geval van die Baske wie se vryheidsaanspraak vir generasies hoog loop, het veral in die afgelope twee jaar begin brand.

‘n Meningsopname in 2010 het bevind dat slegs 25.2% van die bevolking voorstanders van onafhanklikheid was. In die nuutste opname wat verlede week vrygestel is, staan die persentasie op 51.1.

Hoewel daar ander redes ook is, is die grootste rede die Spaanse ekonomiese krisis. Ofskoon Katalonië die rykste streek in Spanje is, gaan hulle ook gebuk onder hoë skuld. Twee weke gelede het hulle die Spaanse sentrale regering om hulp genader. Op hulle versoek vir 5 biljoen euro, het die president van die Extramadura streek gekla dat dit uit alle Spanjaarde se sakke sal moet kom.

Wat die Kataloniërs betref, het hulle slegs gevra dat hulle geld regverdiglik aan hulle terug gegee word.

Onder die huidige fiskale sisteem, verhaal Katalonië belasting van sy inwoners, maar betaal die geld oor aan die sentrale regering, wat die geld saampoel om al die ander provinsies se salarisse, maatskaplike dienste en infra-struktuur te betaal. In die jongste beskikbare state het Katalonië 19.49% bygedra tot die federale kas, waarvan hulle provinsie slegs 14.03% ontvang het.

Dit is hierdie verskil wat maak dat Katalonië se boeke nie klop nie, sê die streek se President, Artur Mas. Mas het voorgestel dat hulle toegelaat word om belastings te hef en ‘n sekere persentasie daarvan aan die sentrale regering oor te betaal, pleks van andersom soos nou die geval is. In ‘n onderhoud met die BBC het hy gesê dat ofskoon sy party nie ‘n voorstaander van afskeiding is nie, is daar slegs een pad oop, naamlik die van vryheid as daar nie tot ‘n ordentlike finansiële ooreenskoms gekom kan word nie.

Die ekonomiese krisis is egter net een van die faktore wat die streek na sesessie dryf. ‘n Gevoel van nasionalisme is weer sterk onder die inwoners wat kla dat hulle tradisies ondermyn word en dat groot korporasies klein besighede, wat die ruggraat van Katalonië was, insluk. Gevolglik is daar werkloosheid onder die jong geslag wat die finansiële situasie vererger. Die oplossing, onafhanklikheid in hulle eie streek waar hulle volgens hulle eie standaarde en tradisies kan leef.