Zumaville – wat is waarheid?

Aanvanklik sou die Zumaville-projek etlike miljarde Rand gekos het. Die jongste nuus is dat dit “net sowat R1 miljard” gaan kos.

Die tweede saak van belang is die feit dat mnr. Zuma die voorsitter is van Masibambisane, ’n organisasie vir landelike ontwikkeling. Die regering se woordvoerder oor die aangeleentheid, Sehloho Mphati het ’n breedvoerige verklaring gedoen oor die hele saak. Die woordvoerder het bekend gemaak dat mnr. Zuma nie deel van die besluit was om Zumaville te ontwikkel nie.

Hoe so ’n besluit sonder die voorsitter geneem kon word, is nie duidelik nie. Volgens die woordvoerder is die Departement van Landelike ontwikkeling en Masibambisane gesamentlik in die projek betrokke.

Zumaville sal sowat 3 km van mnr. Zuma se huis ontwikkel word. Skole, ander staatsgeboue, ’n hospitaal en woonhuise sal deel uitmaak van die projek waarvan mnr. Zuma as voorsitter nie betrek is om besluite te neem nie!

’n Politieke kenner het aan Die Vryburger gemeld dat die volle waarheid oor die aangeleentheid heelwaarskynlik nooit na vore sal kom nie. Volgens hom is die hele projek ’n bedenklike saak wat uit ’n ekonomiese oogpunt ’n algehele mislukking sal wees.

Die projek sal klaarblyklik volledig met belastingbetalers se geld opgerig word.