Weerstand bou op teen RSA en SAA

‘n Lid van die Europese Unie-parlement het ‘n voorstel ingedien dat die landingsregte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gekanselleer word.

Mnr. Lucas Hartong se voorstel volg nadat die SAA bevestig het dat sy werwingsprogram vir nuwe vlieëniers deur die Wet op Gelyke Indiensneming gedryf word. Dit beteken dat blankes nie oorweeg word vir indiensneming nie.

Die lugredery is in die spervuur oor die feit dat wit kandidate nie aansoek kon doen vir indiensneming as vlieëniers nie.

Hartong, ‘n lid van Nederland se Vryheidsparty, het vrae ingedien waarin hy vra of die SAA se beleid in ooreenstemming is met die EU se stryd teen diskriminasie. Hy het daarop gewys dat diskriminasie op grond van kleur of herkoms verkeerd is.

Lugvaartkenners voorspel dat die SAA uiteindelik tot niet kan gaan indien hulle beplan om voort te gaan met diskriminasie. Mense sal weier om met SAA te vlieg; SAA kan dalk nie genoeg bekwame vlieëniers bekom indien blankes nie deel uitmaak van die werwingsproses en opleiding nie. Verder kan daar ’n veldtog ontstaan wat SAA se landingsregte kanselleer oor ’n groot aantal Europese lande.

Hierdie moonlikehede kan die einde van SAA beteken. Etlike jare gelede was SAA skerp onder die soeklig toe Japanese geweier het om met SAA te vlieg omdat swart lugwaardinne glo in hulle neuse krap terwyl hulle etes bedien.