Terroris bedreig dame

Die eerste prinses in die Mev. Afrika-kompetisie moes deur ’n ruit duik toe ’n terroris haar huis binnegedring het in Clubview, Centurion.

Mev. Elzien-Lolette van der Merwe (51) het gistermiddag baie ontsteld gelyk ná haar noue ontkoming.

Sy is ’n gesondheid-konsultant en sakevrou. Sy was in haar konsultasie¬kamer aan die voorkant van die huis en het toe iets gehoor. Die skurk was besig om die TV te ontkoppel.

“Hy het op my afgestorm, hard op my voet getrap en my aan my keel gegryp en my in die gesig geklap,” het sy huilend gesê.

“Waar is die geld?” wou hy herhaaldelik weet en gedreig om haar te verkrag en te vermoor.

“Toe ons alleen in my slaapkamer was, het ek vir hom gesê ek kry koud.Ek het my wit baadjie op die bed sien lê en hom gevra of ek dít mag aantrek.”

Nadat die man die baadjie vir haar gegee het, het sy dit aangetrek en kop eerste deur die slaapkamervenster se ruit na buite geduik en haar uit die voete gemaak en die hulp van ’n buurman gaan soek.

Die terroris het gevlug met drie rekenaars, R500 kontant, die selfoon, juwele en ’n gesondheidstoestel wat meer as R200,000 kos.