Sweepslag – Klim terug in die boks!

Na ‘n langnaweek op die plaas waar geen sprake van bediendedag sigbaar is nie, tref die sinneloosheid daarvan nogal hard by die terugkeer na die stad. Skielik besef ‘n mens dat die Openbare beskermer in die sop is oor sy die DAmes toegespreek het, dat talle vroue en andere die strate in was en deur te sing en te dans hul ganse bestaan verbeter het, hulself minder vatbaar vir geweld en siektes gemaak het, hulself meer vrugbaar gemaak het en hul salarisse verhoog het. Ja,nee, niks verbeter ‘n vrou se lewe soos ‘n vakansiedag nie.

So na vrouedag is dit wel opvallend dat die opinie wat in ‘n sekere skewe dagblad se gereelde rubriek geplaas word, een is van ‘n vrou wat so ‘n walging het in mans, dat sy of skaam is oor die feit dat sy self graag een sou wou wees of dalk net jaloers is omdat sy nie kan kers vashou by haar manskollegas nie. Nie dat dit ‘n goeie ding is om by hulle kers vas te hou nie, want meeste van haar kollegas is so vrysinnig en dwalend dat Willem de Klerk en die laterdae Johan Heyns lyk soos Calvyn en Zwingli! Nie dat Me Landman nie probeer nie. Onlangs vertel sy juis weer dat mense uit die boks moet dink as dit by geloofsake kom. Dat ons nie so moet vasklou aan die oorsaak en gevolg denkwyse van die ou dae nie. Dit klink bietjie soos om te sê ons moet ophou om die waarheid te glo net omdat dit waar is. Kyk, ek sal eerder reksprong doen met bloudraad as om my teologiese raad by hierdie dame te kry. Die tannie reken meeste dink nog soos slawe wat nog Egipte se kos eet terwyl die manna om ons voete lê. Al wat ek weet is dat dit wat in Azanië rondom my lê wil ek nie aan proe nie. Dan bly ek maar eerder in die boks!

Vrouedag en vrysinnige teologie maak my meer op my senuwees as ‘n regeringsamptenaar op ‘n leuenverklikker. Ek reken dit is veiliger om maar te bly by wat ons geleer het, dikwels by goeie vroue wat in die boks gebly het.

In die wakis was die Boek immers gebêre

Tot volgende slag

Die Sweep