Sweepslag – Gesnoekerde prins

Baie families het swart skapies, maar net een familie het ‘n vuurwarm gemmerkat wat vir al die verkeerde redes die media haal!

Nadat die koninklike kat in sy jong dae gereeld vir sy sekskapades en drinkpartytjies in die moeilikheid was, was hy in die laaste paar jaar nogal stil. Maar die kat kom weer! Hierdie keer is dit ‘n onskuldige ontklee-snoeker speletjie wat hom in die sop het. As hy maar net meer soos sy ouma en minder soos David Hasselhoff in Baywatch aangetrek het, het hy dalk nog klere aangehad in party van die kiekies.

Soos dit toe nou gebeur was ‘n snoekerstok in die hande van die koninklike kat minder werd as die grondwet in die hande van die ANC en die prinsie verloor toe nie net die pot nie, maar ook sy broek wat natuurlik die laaste bietjie waardigheid wat die koningshuis nog oorgehad het in die gatsak gehad het. Toe die broek val begin die kameras flits en die kat gryp die kroonjuwele vas. Hy wou blykbaar ‘n meisie daarmee beskerm dat sy nie afgeneem kan word nie. Hoe hy dit wou regkry is nie duidelik nie, maar dat sy ego groter is as sy snoekerstok is seker.

Toe Ouma haar Facebook profielfoto daardie dag wil vervang en sy moet die hele net vol haar kleinseun met sy adamsgewaad in die oog kyk, spoeg sy natuurlik warm tee oor vier van haar beste Yorkies se geskeerde ruggies uit. Nou sal die kat moet verduidelik want die laaste keer wat die ou vrou so kwaad was, was toe Charlie vir Diana met die Bulhond van Cornwall verkul het en toe selfs met haar getrou het. Die vet is in die vuur en selfs die weermag gaan vir die prinsie sê hy was stout!

Uiteindelik is hy tog maar ‘n koninklike kat en niemand verwag enige langtermyn gevolge nie. Dit laat mens wonder of William nie dalk al spyt is oor hoeveel hy al mee kon wegkom, maar nooit gedoen het nie.

Hoe dit ookal sy, dit is merkwaardig dat daar in Pommieland so bohaai gemaak word oor so iets terwyl Azanië soveel het om oor skaam te wees dat niemand eers twee keer dink oor die sekskapades van sy koninklike septer nie.

En nou sit Suid-Afrika met n tweede skildery van die Presidentjie…. ook kaalbas!

Tot volgende slag

Die Sweep