Sweepslag – Die groot aartappeloorlog van 1220

Ek kan nie my vinger daarop plaas nie, maar iets het my hierdie week herinner aan die groot aartappeloorlog wat hom in 1220 in Simba se hooffabriek afgespeel het. Dit was ‘n lelike slagting. Die storie loop so…

Die moeilikheid het begin toe sommige aartappels ontevrede was oor die lone wat hul eie aartappelregering as minimumloon bepaal het. Toe hierdie ontevrede aartappels hoor dat twee van hul kollegas,veligheidsaartappels in dieselfde afdeling, tevrede is met hul geld, toe gooi hulle die tevrede kollegas in die oond om uit te brand, ‘n ou manier van die aartappels. So begin die oorlog toe van die rebelle-aartappels teen die heersende tappels.

Dinge raak woes, die rebelletappels bewapen hulself met skilmesse, aartappelskillers en aartappelgewere. Die heersende tappels is ongeorganiseerd, want hul fokus was nog nooit om teen hul eie op te tree nie. Die rebelle laat ‘n tradisionele afrika-aartappel kom om hule met aromat en plaasbotter “onsterflik” en vreesloos te maak en kom op ‘n hoogte bymekaar want om hoog te wees help met die vreesloosheid. Voor die slag nog begin loop die vreesloosheid oor en word die onsterflikheidsteorie getoets en drie rebelle sneuwel, nie reg gebotter gewees nie.

Die spanning loop hoog en die sweer bars uiteindelik oop. Die rebelleleier het toe nooit dokter toe gegaan oor die septiese ding nie. Hy vee die gemors af en storm die heersende tappelmagte. Die hele oes rebelle storm gewapend saam, die tappelmagte moet reageer! Hulle oorweeg klonte, maar klonte maak nie dood nie, net seer. Hulle oorweeg waterpistole, maar hoewel die rebelle nie graag bad nie, gaan dit hul nie keer nie. Uiteindelik ruk hul, hul eie aartappelgewere uit en skiet ‘n paar rebelle. Rebelle val, bokveld toe, en almal weet wat gebeur met ‘n aartappel as ‘n bok hom kry! Die res van die rebelle se botter en aromat is skoon weggeskrik. Nou treur hulle! Die slag is verby, die rebelle is kwaad! Hoe kon die magte net skiet!

Die rebelle wil nou met Simba praat, die hoof van die tappelstaat maar al wat opdaag is ‘n vrot aartappelmoer wat deur die produksielyn uitgeskot is. Die res van die land is dit eens, die polisie was reg! Rebelle was gewapen, wat moes hulle anders doen? Tog snaaks…dit laat dink my aan ‘n soortgelyke geval, my geheue is nie so Sharp daaroor nie, maar ek ville my tog verbeel die polisie was toe die varke…

Tot volgende slag

Die Sweep