Steeds Ekonomiese onsekerheid in EU

Die ekonomiese onsekerheid duur steeds voort in die Europese Unie te midde van leiersgesprekke en die maak van nuwe planne.
Griekeland se leier, Antonis Samaras, het die Duitse bondskanselier, Engela Merkel, die afgelope naweek besoek en gepleit dat daar meer lewensruimte aan
sy land gegun moet word. Daarmee word bedoel dat daar meer tyd toegelaat moet word vir die toepassing van die streng ekonomiese maatreëls
wat vereis word vir hulp deur die EU. Die bondskanselier het vas gestaan met die eis dat die maatreëls uitgevoer moet word. Griekeland moes noodgedwonge
instem en het belowe om die neergelegde maatreëls toe te pas. Die land is nie meer net in ‘n resessie nie, maar daar word deur ekonome gepraat van ‘n depressie.

Intussen het Engela Merkel haar Duitse leiers ernstig aangespreek om op te hou om van “Grexit” te praat. Die woord word al hoe meer gehoor en word gebruik,
as afkorting vir Griekeland se verwagte uittrede uit die EU. Sy het veral die leier van die Beierse Christelikendemokrate (CSU), Alexander Dobrindt, en die
voorsitter van die Duitste Bundesbank, Jens Weidmann in gedagte gehad. Sy het bygevoeg dat die ESM (Europese Stabiliteitsmeganisme) en die ECB (Europese Sentrale Bank)
belangrike bydraes te lewer het om die Euro te beskerm en die lande wat sukkel te help.

Italië se leier, Mario Monti, het komplimente van die bondskanselier ontvang dat hulle hou by die streng besparingsmaatreëls wat vereis is. Verdere ekonomiese hulp kan
dus van die EU verwag word. Monti het van sy kant af gesê dat hulle baie by Duitsland geleer het.