St. Helena kry lughawe

Daar is net een private geoktrooieerde rekenmeester op die eiland St. Helena en geen prokureurs of eiendomsagente nie.

Dít is van die inligting wat ’n handelsafvaardiging van dié eiland in die Atlantiese Oseaan verlede week op ’n inligtingsessie in Kaapstad verskaf het.

“St. Helena is gereed om sake te doen, op voorwaarde dat dit op ’n volhoubare wyse geskied,” sê Adam Kossowski, Enterprise St. Helena se verteenwoordiger in Kaapstad.

Die eerste lughawe wat op die eiland in aanbou is, sal na verwagting teen Februarie 2015 klaar wees – 200 jaar nadat Napoleon Bonaparte die eerste keer daar aangeland het.

Dit verg tans vyf dae om die eiland per skip vanaf Kaapstad te bereik.