Springbokke maak byna geskiedenis

Die Springbokke het Saterdag byna geskiedenis gemaak in Mendoza, Argentinië, deur vir die eerste keer teen die Pumas te verloor. Die Argentyne was duidelik die beter span op die veld en die Springbokke het gesukkel om enige momentum op te bou. Die agterlyn het die bal telkens soos ’n laerskoolspan deur die hande tot by die vleuels gevoer, sonder dat daar regtig enige veld gewen is. Sodra die vleuel geduik is, het die bal weer dwarsoor die veld deur die hande beweeg. Die hele agterlyn se penetrasie vermoë was dieselfde as ’n kettie op ’n Marikana koppie.

Heyneke Meyer het besluit om groter voorspelers te kies vir die tweede wedstryd teen die Pumas. Die ou grotes het egter bitter min impak gemaak. Hulle is telkens agter die voordeellyn vasgevat. Van die gewone boelie taktiek wat deur die Springbokke se voorspelers gebruik word, was geen teken te sien nie.

In die tweede helfte het Frans Steyn ’n skop van die Argentynse losskakel afgestorm. Die bal het sowat twee meter voor die doellyn tot stilstand gekom en Steyn het die bal opgetel en oorgeval. ’n Mens het egter nie een keer die indruk gekry dat die Springbokke gelyk het of hulle die doellyn kan oorsteek nie.