Slaggat eis lewe

’n Slaggat in die R540 pad is die oorsaak dat mnr. Ed Latherton van sy fiets geval en later aan sy beserings dood is.

Enkele dae later, op ’n Sondag, het werkers die slaggate op die R540-pad naby die Wieg van die Mensdom opgevul om dit te herstel. Die slaggate is etlike maande gelede reeds onder die paaie departement se aandag gebring, maar niks is gedoen nie.

“Noudat iemand sy lewe verloor het, word daar skielik werk van gemaak” het ’n fietsryer gesê.

Mnr. Latheron (66) van Johannesburg, wat in Nieu-Seeland gebore is, het saam met sowat 30 ander fietsryers van die Club100 in die omgewing van die Wieg van die Mensdom, op die R540 geoefen toe die ongeluk gebeur het.

Nog ’n fietsryer is sowat ’n maand gelede ook weens dieselfde slaggate beseer.

Slaggate in paaie het al talle noodlottige ongelukke veroorsaak. Die agterlosigheid van paaie departemente word hopeloos te min aangespreek. ’n Woordvoerder van ’n hospitaal het aan Die Vryburger gesê dat daar deesdae baie pasiënte in hospitale opgeneem word weens ongelukke wat plaasvind as gevolg van slaggate.