Redaksioneel – Woelinge

Woelinge

Die land het weereens sy kwota onaangenaamhede ervaar in die afgelope week.

Die skietery by Marikana het menige laat terug dink aan Sharpville. Die feit van die saak is dat wanneer die mens bedreig voel, reageer hy soos wat die polisie gereageer het.

Dit bring dan ook die gebeure by Sharpville weer na vore en miskien is daar nou iemand wat anders dink oor die optrede van destyds want hulle het nou ’n voorsmakie gehad van hoe dit voel as duisende op jou af storm…..

Die woelinge het nie daarby geëindig nie. Die ganse buitewêreld is in rep en roer oor die gebeure en in sekere lande soos New Seeland was betogers in opstand en het die SA konsulaat onder verfbomme deurgeloop.

In Europa het stemme opgegaan dat die polisie van die land tot orde geroep moet word en dat beter opleiding dringende aandag verdien. Ander het gevra dat die ANC regeringshoof en die hoof van polisie moet bedank.

Dit alles dui daarop dat Suid-Afrika dalk vir die eerste keer sedert 1994 in die regte lig gesien word. Vir die eerste keer is die wonderlike nuwe demokrasie nie meer so wonderlik nie.

Boere-Afrikaners weet dat die buiteland niks gaan doen om hierdie verdrukte en onderdrukte volk te help om soewereine onafhanklikheid te herwin nie. Daardie deel van die werk sal die volk self moet verrig.

Die Boere-Afrikaner Volksraad het ’n mandaat gekry om die proses te begin. Elke volksgenoot wat dit erns het met die vryheidstryd, sal nou hul ondersteuning moet bied, elkeen op hul eie besondere wyse.

Die woelinge wat bestaan rondom die ANC/SAKP regime, is tot voordeel van die vryheidstryders. Die verkose lede van die Volksraad kan heel moontlik munt slaan uit die omstandighede en hul bedingingsmag versterk.

Laaste maar beslis nie die minste: Die optrede van ’n Sunette Bridges is ’n voorbeeld vir duisende volksgenote. Sy het te midde van teenkanting, haar onomwonde by die Boere-Afrikaners geskaar. Sy is die een wat nog vir vele sal wys dat sy bereid is om kaalvoet oor die Drakensberge te stap…….