Redaksioneel – Soewerein vry – niks minder!

Die Boere-Afrikaner het ’n strewe na vryheid. Nie kulturele vryheid, maar republiekeinse vryheid, want kulturele vryheid is geskoei op die lees van De klerk se “eie skole en eie woongebiede” beloftes.

Kulturele vryheid is gevolglik geen vryheid nie. Dit is minstens slawerny onder die juk van die kommunis. Dit verskil geensins met dit wat die Progs sedert 1955 bepleit het net nie.

Die Boere-Afrikaner het sy strewe na Republikeinse vryheid reeds openbaar met die eerste pogings soos by Swellendam en Graaf-Reinette. Ons volk wou nog altyd weg bly van die juk wat ander volke op ons skof wou plaas. Dit is nie vreemd dat daar instansies is wat teen die soewereine onafhanklikheid gekant is nie en eerder ‘n kulturele vryheid voorhou as ‘n alternatief nie, aangesien hierdie instansies steeds heerlik geld maak in die “Nuwe Suid-Afrika”.

Die Boere-Afrikaner se stryd is nie ’n stryd wat begin en eindig in sy kultuurwêreld nie. Daardie stryd is ook deel van die stryd, maar vorm ’n kleiner onderdeel van die ware stryd om in eie land, deur ons eie mense beheer en regeer te word. Waar daardie land is, is belangrik, maar dit is nie nou die strydpunt nie.
Voor ons ’n plek bepaal moet daar eers sekere aanvoor werk gedoen word. Die registrasie van kiesers op ’n kieserslys is noodsaaklik. Die VVK het met bitter min tot sy beskikking, ’n reuse taak verrig en uiteindelik ’n verkose Volksraad daargestel. Die Boere-Afrikanervolksraad is beklee met mag om die eerste stappe te neem om volksvryheid te herwin.

Aan die anderkant is daar momentum gegee aan die uitbouing van die Volkseie Ekonomie soos dit deur die Oranje Sake Instituut en sy geaffilieerde sakekamers begin is.

Op elke ander terrein van die volksakker word daar gewerk. Verskillende organisasies doen elkeen sy deel om ons volk gereed te kry om op ’n gegewe tydstip volkome vryheid te herwin.

Elke leser van Die Vryburger is deel van hierdie stryd. Met elkeen se betrokkenheid sal daar op ’n gegewe dag iets gebeur wat die deure sal laat oopswaai en hierdie volk weer sy vryheid sal herwin om dit nimmer weer af te staan nie.

Daardie dag wanneer die Vierkleur vlae van die twee ou Boere Republieke weer wapper oor die velde van ’n vrye Republiek sal ons saam sing:

Kent gij dat volk vol heldenmoed
En toch zo lang geknecht?
Het heeft geofferd goed en bloed
Voor vrijheid en voor recht…….