Nuwe Sharpville wek kommer

Die bloedbad wat die lewens van 35 mense in Marikana opgeëis het, word allerweë op internasionale vlak veroordeel. Koerante en TV kanale soos The Guardian, New York Times, Sky News, Denver Post, BBC, Washington Post, CNN en verskeie ander publikasies het oor die slagting berig. Selfs die aanlyn-ensiklopedie Wikipedia het ‘n vol bladsy daaroor gepubliseer. Die polisie het Donderdag met lewendige ammunisie op stakende werkers geskiet wat op ‘n heuwel in die gebied saamgekom het.

Die jongste berigte wat Die Vryburger ontvang het dui daarop dat 35 stakers doodgeskiet is binne enkele minute. Klaarblyklik is dit bo en behalwe die tien wat voorheen geskiet is.

Buitelandse woordvoerders beskou die optrede van die SAPD in ’n meer ernstige lig as die destydse Sharpville toe 69 oproeriges doodgeskiet is.

Lesers wat Die Vryburger gekontak het verwys na die voorval as Sharpville 2.