Musiek op sy beste

Jannie Moolman en Helena Ceronio tree op 5 September 2012 in die CenturionTeater op.
Die konsert begin om 08h00, kaartjies kos R120,00 per persoon en besprekings kan deur Computicket of direk by die Centurion teater gedoen word.

Die program behels solo’s deur Jannie Moolman en Helena Ceronio sowel as ‘n fees van 10 duette – iets om werklikwaar na uit te sien.

Jannie Moolman is ‘n bekende en operasanger wat ook baie goed in die ligtemuniek presteer. Hy het verskeie toekennings ontvang vir sy optredes in veral operas. Afgesien van operarolle het hy ook in oratorium en Rossini se Stabat Mater and Messe Solennelle opgetree. Dirigente waaronder hy gewerk het sluit in Gerard Korsten, Bruno Aprea en Reinhard Schwarz in. Hy het opgetree in lande soos Oostenryk, Duitsland, Engeland, Hong Kong en China.

Hy was lid van die bekende: Ons Eie Drie Tenore en het sy eerste solo-album in April 2003 vrygestel.

Helena is ‘n sangeres en die eienares van Leagro Ateljee in Pretoria waar sy sangonderrig gee. Sy tree gereeld in konserte en by verskillende ander funksies op en sing van gewilde ligte liedjies tot klassiek en opera. Ook het sy reeds 2 albums nl. “Ontmoet My” en “Daarom Sing Ek” die lig laat sien en is tans besig met opnames vir die volgende vrystelling.

Helena het aan die Hoërskool Staatspresident C.R. Swart gematrikuleer. Aan die einde van 1995 het sy die “Diploma in Opera” met lof aan die destydse “Technikon Pretoria” verwerf. Die Technikon se Raadsmedalje vir die beste student oor drie studiejare is ook aan haar toegeken.

Gedurende haar studentejare het sy verskeie hoofrolle in studente-produksies vertolk waaronder “Ida” in “Die Fledermaus”, “Susanna” in “Die Huwelik van Figaro”, en “Suor Angelica” in “Suor Angelica”.

Sy was na haar studentejare lid van Opera 2000 en het in meeste van Opera 2000 se produksies as solis opgetree.

Die program wat deur die kunstenaars aangebied word sluit in: Drinklied uit La Traviata, Time to Say Goodbye, Ek Mis Jou Elke Dag ‘n Bietjie Meer, ‘n Liefde wat vir altyd Bly, Jerusalem, Pie Jesu, All I ask of You, en sommer nog heerlike ander populêre luistermusiek.