Israel draai teen RSA

Betrekkinge tussen die RSA en Israel het gister ernstig versleg nadat die Israelse regering die Suid-Afrikaanse ambassadeur ontbied en hom die leviete voorgelees het.

Ismail Coovadia, SA se ambassadeur is geroskam oor Suid-Afrika se “blatante diskriminasie” teen Israel oor die besluit om Israel te dwing om produkte wat in besette Palestynse gebiede hul oorsprong het en na dié land uitgevoer word as sodanig te etiketteer.

“Wat geheel en al onaanvaarbaar is, is die gebruik van middele wat in wese diskrimineer en (Israel) uitsonder om ’n algemene boikot (teen Israelse produkte) aan te blaas,” lui die Israelse verklaring na afloop van die gesprek met Coovadia.

“Ons gaan nie hierop kommentaar lewer nie,” het Clayson Monyela, woordvoerder van Suid-Afrika se ministerie van samewerking en buitelandse betrekkinge, in reaksie gesê.

Die geskil tussen Suid-Afrika en Israel het verlede week momentum gekry toe
Ebrahim Ebrahim, nie net die land se standpunt teen ingevoerde Israelse produkte herhaal het nie, maar Suid-Afrikaners ontmoedig het om daardie land te besoek. Hy het later sy stelling versag.

Die Vryburger het intussen vasgestel dat die Israelse regering ernstig oorweeg om bande met die RSA te breek aangesien die ANC regering openlik kant gekies het vir die Palestyne.

Kenners van die internasionale politiek is van mening dat hierdie breuk ook wyer kan uitkring en lande soos die VSA en Brittanje kan meer afsydig staan teenoor die RSA.