Handboeksage simptomaties

Die media berig die afgelope weke gereeld oor wat nou al as die ‘handboeksage’ bekendstaan. Dit blyk ʼn probleem van ʼn veel groter omvang te moet wees as wat aanvanklik vermoed was. Die krag van die reg is uiteindelik deur die groep, Section 27, ingespan in ’n poging om dwang op die onderwysdepartement uit te oefen. Onderwyl belangegroepe in die onderwys hulle misnoë duidelik te kenne gee, word uit talle oorde na moontlike oorsake gesoek.

Die vraag wat onwillekeurig by ʼn mens opkom is of die werklike onderwys-probleem nie veel dieper strek as wat uiterlik manifesteer nie? Is dit slegs maar handboeke wat onafgelewer in pakhuise gebly het, of wat langs riviere en op ander plekke gestort is? Is dit bloot ’n geval dat die departement met onbeholpe of onbekwame personeel te kampe het, dat die vingers nou na hoë ampte en posisies gewys word, met die ondersoek steeds aan die gang?

Bo-oor hierdie dilemma van skole wat al meer as halfpad deur die skooljaar nog nie van handboeke voorsien is nie, dreig daar nou ’n veel groter storm. Beriggewing wil dit hê dat daar ernstige onrus in die onderwys heers, wat oor veel meer as slegs die handboeke gaan. Die direkteur van Fedhasa het in ʼn onlangse berig daaroor dit as ʼn moontlike “Arabiese lente” wat vir die onderwys van Suid-Afrika op hande is, bestempel. Daar is meer as net die omstredenheid met skoolhandboeke en ʼn mens wil vra: wat gee alles daartoe aanleiding?

Afrikaners behoort teen hierdie tyd te besef dat openbare onderwys onder die polities-ideologiese doelstelling (verstaatliking) van die regime gebuk gaan. Onderwysmense van integriteit probeer in heersende omstandighede nog alles moontlik doen om sake te probeer beredder. Toenemend raak ’n mens daarvan bewus dat die handhawing van professionele onderwys al moeiliker raak. Die bestuursbenadering deur die departement gevolg, is in die eerste plek gerig op die uitvoering van die voormelde misplaaste doelstelling. Die onderwysminister is onherroeplik daartoe verbind om te verseker dat dit slaag, selfs ten koste van ware onderwys. Die regime wil deur middel van die onderwys sy doelstelling van ʼn getransformeerde samelewing bewerkstellig, al word kinders en jongmense in die proses opgeoffer. Handboeke wat nie betyds gelewer word nie, is maar een van die simptome.

Hoe ver staan dit nie verwyder van die Christelike onderwysideaal wat die Afrikaner oor die eeue heen nageleef het nie.