Ek sien dit so!

Ek wil graag begin deur vinnig twee afsonderlike gevalle te bespreek, beide was onlangs in die koerante.

Die eerste geval handel oor twee mans wat daarvan verdink word dat hulle ‘n Moslem-man doodgeslaan het. Kyk, mens praat nooit enige onnodige bloedvergieting goed nie. Veral nie wanneer die aanval geloods was oor iemand se baard nie. Maar nou ja, afgesien van die “motief” vir die aanval, het die koerante en radiostasies nie vir ‘n enkele oomblik geskroom om te verwys na die aanvallers as “wit” nie. Hoe belaglik! Ons moet miskien ‘n nuwe en sterker woord vir “belaglik” kry, aangesien die woordjie “belaglik” nie behoorlik die belaglikheid van die situasie kan uitdruk nie. Selfs die radiostasie wat sy bestaan oor jare heen te danke het aan “wittes” wat baie opgeoffer het, verwys na hierdie twee manne se velkleur.

Die tweede geval staan amper in kontras met die eerste. ‘n Boervrou word koelbloedig doodgeskiet toe sy uit haar voertuig klim om ‘n plaashek oop te maak. Die “rowers”, ja rowers sonder enige verwysing na kleur, is daar weg met die dame se voertuig. Die einste voertuig word later verlate gevind deur die polisie. Ek sou dus aanneem dat die motief nie roof was nie, eerder net nog ‘n beplande moord op ‘n sagte teiken, uitgevoer deur betaalde barbare. Is daar ‘n Volksmoord aan die gang?

Ter afsluiting, die ouers wat aangekla was vir die moord op hul twee maande oue baba, is beide skuldig bevind aan moord. Die arme kindjie, wie of wat is jy as jy sulke goed aan jou eie kind kan doen? Met sulke ouers kan die volgende vraag met reg gevra word: Met sulke ouers, wie het vyande nodig? Die wiel van geregtigheid draai, stadig maar seker.

Boeregroete tot ons mekaar weer raakskryf,

Kordaat Neelsie