DNS-toets bepaal egtheid van skildery.

DNS-toetse sal bepaal of ‘n skildery deur Vincent van Gogh geskilder is. Indien dit eg is sal die vonds sowat $60 miljoen werd wees. “Stil lewe met pinksterrose,” gedatteer 1889 is in 1977 in ‘n kelder in België gevind. Vir meer as vier dekades was die skildery in geheimsinnigheid gehul.

‘n Kunsversamelaar in Kologne het die werk van sy vader geërf. Hy wil nou bewys dat dit een van die laaste werke van die Nederlandse meester is wat in 1890 sy eie lewe geneem het.

Twee onafhanklike kunskenners het reeds te kenne gegee dat dit korrek is. Die Van Gogh-museum in Amsterdam ontken dit egter en sê dat die kwashale verskil van die meester se werk.

‘n Rooi haar wat in die verf van die skildery gevind is, kan egter daartoe lei dat die probleem spoedig opgelos word. Die DNS van die haar sal met die DNS van die Van Gogh-familie se nasate getoets word om te bepaal of dit deur die kunstenaar geskilder is.