Dis sulke tyd . . .

Augustus is die maand van veranderings. Dit is ‘n onrustige tyd met die wind, maar hopelik waai lente by ons deur in.

Onthou om al jou rankplante na te gaan. Maak seker dat hulle stutte en voorwerpe waarop hulle rank, goed geanker is. Augustus bly maar ‘n winderige maand.

Sodra die ergste koue gewyk het kan ons die rypbeskadigde takke en blare af sny. Sny al die dooie gedeeltes af tot by lewendige dele. Kry al die lelike uit jou tuin voordat ons begin om nuwe lewe in jou tuin te toor.

Dit is nou tyd vir die voorbereidings vir nuwe tuine.

Nuwe beddings moet lekker diep omgespit word – sowat 50 cm.

Werk soveel moonlike organiese materiaal in die grond in. Indien grond sanderig is, sal dit help om die vog in te hou, terwyl by meer kleierige grond, help dit die dreinering.

Houtas werk baie goed indien die grond te suur is. As jy nou weer met alkalise grond sukkel, werk net ‘n klompie dennenaalde in die grond in.

Strooi ‘n dik laag kompos egalig oor die grondoppervlak en volg op met ‘n laag stadig vrystellende kunsmis soos 3:2:1. Spit weer die hele bedding goed om sodat dit goed met die grond meng. Hou die grond klam. Jy kan weer die bedding water gee as die eerste 4 cm van die grond begin droog word.

Ons spandeer soveel geld om plante aan te koop en vergeet soms om die grond vooraf reg voor te berei. Die grond het net soveel aandag en liefde nodig soos die plante.

Plant van die maand: clivia (Amaryllidaceae)

Dis die ideale tyd om jou clivias se ryp saad te oes.

Doen die voorbereidings want September is om die draai, dan kan ons plant dat die grond spat!