Degas: Dansklas by die Opera

‘n Uitstalling van werke van die groot meesters van die twintigste eeu, kan tot die 15de September in die Standard Bank Gallery in Johannesburg besigtig word.
Die uitstalling is ‘n gesamentlike Frans-Suid-Afrikaanse projek deur die Franse en Suid-Afrikaanse regerings asook korporatiewe borge wat beoog om bande tussen die lande te versterk.

Onder kuratorskap van Sylvie Ramond, direkteur van die Musée des Beaux-Arts de Lyon en getiteld: die menslike figuur, word werke van top Franse kunstenaars vertoon.
Die uitstalling asook die boek wat dit komplementeer, bied ‘n verskeidenheid in die wyse waarin hoofsaaklik Franse kunstenaars die menslike liggaam oor die afgelope 100 jaar weergegee het. Dit sluit werke van die 19de eeuse meesters in, soos: Gustav Courbet, Jean-Francois Millet en Edouard Manet asook skilderye en sketse deur kunstenaars wat met Impressionisme verbind was, bv. Berthe Morisot, Edgar Degas en August Renoir. Werke deur pioniers van vroeë modernisme – Fernand Leger, Georges Braque, Pablo Picasso, Henri Matisse, Félix Vallotton, Victor Brauner and Wilfredo Lam, asook konteporêre kunstenaars Annette Messager en Jan Fabre kan ook gesien word.

Toegang is gratis vir hierdie uitstaande uitstalling waar elkeen die genot van die werke van die groot meesters kan leer ken en waardeer.