Byleveld kap forensiese afdeling

Suid-Afrika se voorste speurder, mnr. Piet Byleveld, het sy misnoeë met die forensiese ondersoeke van die opspraakwekkende Griekwastad-moorde uitgespreek.

Mnr. Byleveld het die gesloer met afhandeling van die forensiese uitslae oor die ondersoek na die moord op Deon, Christelle en Marthela Steenkamp as totaal onaanvaarbaar bestempel. Hy het daarop gewys dat daar binne enkele dae deur middel van vingerafdrukke bepaal kan word of daar ‘n buite-persoon op die toneel was.

Die Steenkamp-gesin is op Goeie Vrydag vanjaar in die huis op hul plaas Naauwhoek geskiet. Die enigste oorlewende van die gesin, die egpaar se seun Don (15), was glo buite in ’n skuur toe hy skote gehoor het.

Suid-Afrika was bekend daarvoor dat moordsake vinnig en effektief opgelos word aangesien die strukture deur kundige mense bestuur is. Die gesloer met hierdie saak skep die indruk dat daar moedswillig gesloer word om redes wat onbekend is of dat daar ’n groot gebrek aan kundigheid bestaan..