Boeremag-uitspraak: Dag 9

“Slagting”

2 Augustus 2012. Voor die horlosie 12 uur slaan, word nog drie aangeklaagdes in die Boeremag-saak “opgehang”: Beskuldigdes nr. 8 (Jacques Olivier), nr. 9 (Pieter van Deventer) en nr. 10 (Fritz Naudé). Amper soos die “dertig duisend-vyf-in-‘n-ry”.

Jacques en Pieter ken mekaar sedert hulle jong offisiere was. Jare later – een Saterdag in April 2001 – sien hulle mekaar weer op ‘n byeenkoms in die plaashuis van Hennie Erasmus, ‘n boer in die Winburg-distrik. Hulle is uitgenooi om te kom luister na Kol. Jan Breytenbach, wat 32 Bataljon in die sewentiger jare gestig het. Saam met ongeveer 20 of 30 ander manne is Mike du Toit en ene Jan Viljoen ook daar. Min mense daar het mekaar al ooit voorheen gesien.

Op die Staat se weergawe was hierdie einste Jan Viljoen die leier van die hele staatsgreep-komplot, totdat hy voortvlugtig geraak en Mike du Toit by hom oorgeneem het. Vreemd genoeg is Leier Jan Viljoen nooit gearresteer om in die Boeremag-sage tereg te staan nie; terwyl andere by ‘n enkele braaivleis was en in die tronk beland. Tydens die verhoor verwys die Verdediging natuurlik na hierdie absurdheid. Daar is ‘n eenvoudige verklaring, reken Staatsadvokaat Fick: Die Polisie kon Viljoen in al die jare bloot nog nooit opspoor nie…Wil jy glo, ongeag honderde miljoene Rande en derduisende man-ure wat die Staat op hierdie saak spandeer, is die Leier “weg”. Die man moet sekerlik die grootste verdwynkunstenaar in menseheugenis wees.

Terug by Winburg: Die Hof aanvaar Kol. Jan Breytenbach se weergawe dat hy toe nie oor gebiedsbeskerming gepraat het nie maar dat die aanwesiges daar eerder wou hê hy moes hulle met ‘n staatsgreep help. Jacques Olivier en die res daar aanwesig, soos Pieter van Deventer, moes daarvan kennis geneem het. Breytenbach sê immers: “Iemand het na ‘n kaart van Suid-Afrika teen die muur geloop, sy vinger daarop gedruk en gesê: “Ons moet hierdie land terugvat, ons vlag moet weer hier wapper”. Onteenseglik dui dit op ‘n staatsgreep wat daar bespreek is. (Broeders en susters, neem kennis: Om te sê “die Vierkleur sal weer wapper”, soos tot onlangs gereeld oor ‘n sekere radiostasie gesê was, klink na ‘n uiters gevaarlike stelling om te maak in hierdie demokrasie van ons!)

Die Hof bevind verder: Maj. Olivier, wat destyds op Lohatla gestasioneer was, en Deon van den Heever het inligting oor die Lohatla militêre gebied aan die lokvink J.C. Smith en Mike du Toit-hulle oorhandig; onder andere oor die tipe- en getalle van wapentuig wat daar gebuit sou kon word. Tydens die braaivleis wat later by Jacques se huis op Kathu plaasgevind het, was Kol. Burger aanwesig en is besluit dat hy ‘n plan sou optrek vir oorname van die basis, onder dekmantel van ‘n militêre oefening. (Die oefening het plaasgevind, die gevegsvoertuie was gereed…maar niks het gebeur nie. Kol. Giel Burger is ‘n jaar later eers gearresteer, en geen getuienis kon ooit aangevoer word dat hy toe nou wel so ‘n plan opgestel het nie. Maar nou ja…)

Die Hof bevind verder dat Jacques ‘n ongeloofwaardige getuie was en dat daar weersprekings is tussen sy getuienis in die verhoor, en sy verklaring waarin hy indertyd om borgtog aansoek gedoen het. As offisier het hy trou gesweer aan die staat, en hy moes die gebeure aan die Polisie gerapporteer het. Die Hof se slotsom: Jacques Olivier word skuldig bevind aan hoogverraad.

Wie is Maj. Jacques Olivier?

Hy is in 1970 gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom. Na skool het hy by die Weermag aangesluit. Hy dien in eenhede soos Pantserskool en 1 Spesiale Diensbataljon te Bloemfontein; voltooi verskeie kursusse met sukses; en word ‘n offisier in die Pantserkorps. Op sy gelukkigste in die toring van ‘n Ratel of ‘n Rooikat, 32 jaar oud toe hy gearresteer was, vroeg reeds op borgtog vrygelaat. ‘n Man wat lief is vir die lewe, kan kwinkslae kwytraak op die ingewing van die oomblik wat jou laat kruip van die lag. Met sy arrestasie het hy ‘n senior pos beklee by Pantser Hoofkwartier in Pretoria. Sy eggenote en twee jong kinders staan hom getrou by.

Nommer 9: ‘n sms “van Pieter”
Soos voorheen vertel, loop Maj. Piet van Deventer sy vriend Jacques Olivier raak op sy ander vriend (Oom Hennie Erasmus) se plaas in die Winburg-distrik, en die Hof bevind daar was hoogverraad gepleeg. Vier maande later, in Augustus 2001, nooi Oom Hennie vir Piet na nog ‘n byeenkoms by die Hendrik Verwoerd-dam (deesdae “Gariepdam” genoem). Volgens die beskuldigdes het dit hier weereens gegaan oor hoe Blankes hulleself kan beskerm, veral tydens ‘n verwagte Swart massa-aanval soos wat sommiges meen deur Siener van Rensburg en Johanna Brand voorspel was.

Nee, bevind die Hof – dit het hier weer gegaan oor ‘n staatsgreep. Dis hoekom Piet van Deventer, wat eers in Pantser was maar teen hierdie tyd ‘n Regsoffisier, so uitgewy het by Gariepdam oor die problematiek verbonde aan die operasionele gebruik van gevegsvoertuie. Die Hof aanvaar ook die lokvink J.C. Smith se getuienis dat Piet op hierdie byeenkoms hom wat Smith is se selfoonnommer geneem het; en belowe het om uit te vind hoeveel operasionele pantservoertuie daar in Bloemfontein was. Kort daarna, getuig Smith, kry hy dan ook ‘n sms “van Pieter” wat tenk- en Ratelgetalle gee. Piet ontken so ‘n sms in sy getuienis. Namens hom is betoog dat die Staat geen selfoon-state of enige ander rekords of objektiewe bewys ingedien het dat so ‘n “sms” inderdaad gestuur of ontvang was nie. Die Hof bevind egter dat Smith hierdie getuienis nie “uit sy duim gesuig het nie”. Die Hof se slotsom: Pieter Gabriël van Deventer is skuldig aan hoogverraad.

Wie is Maj. Pieter van Deventer?

Pieter is in 1965 gebore. Na skool het hy by die Weermag aangesluit, en ‘n offisier in die Pantserkorps geword. Hy dien in eenhede soos Pantserskool (waar hy onder andere kwalifiseer as ‘n Rooikat-bevelvoerder) en 1 Spesiale Diensbataljon. Hy voltooi ook die “Alle Dienswapens”-kursus by die Leër Gevegskool op Lohatla. Tussendeur het hy Regte deur UNISA gestudeer, sy leerklerkskap in Bloemfontein voltooi, en ‘n toegelate prokureur geword. Mettertyd is hy uit die Pantserkorps verplaas om ‘n Regsoffisier te word.

Pieter is tydens die Hofsaak geskei, en het vyf kinders.

Die Uitspraak duur voort.