Boeremag-uitspraak: Dag 13.

“Die pad van Mapacha na Memel”

1974. ‘n Groepie linksgesinde offisiere in Portugal voer ‘n staatsgreep uit en neem die bewind oor. Dit stuur skokgolwe duisende kilometers ver tot aan die suidpunt van Afrika, waar ‘n klein Wit volk in ‘n stryd gewikkel is om vryheid en erfenis te behou. ‘n Stryd wat donker komplikasies opdoen met die gebeure in Portugal – want die nuwe maghebbers daar wil so gou moontlik die meer as 500 jaar-oue Portugese beheer oor Afrika-kolonies prysgee. Nie net dit nie: Duidelik gaan “die nuwe Lissabon” sy ou heerskappy in Afrika by voorkeur aan marxistiese terroristebewegings oorhandig – aan die MPLA en FRELIMO.

Sodra dit gebeur, sal uhuru uiteindelik tot op die Boere se drumpel aangekruip het. Die Suid Afrikaans-bestuurde “Suidwes” sal meer as ‘n duisend kilometer grenslyn deel met ‘n Swart kommunistiese regering in Angola – van die Atlantiese kus af, tot naby Mapacha in die Caprivi. En Mosambiek sal ook deur Swart marxiste regeer word – minder as 450 kilometer van die Uniegeboue af. Die gewone feestelike stemming van Suid-Afrikaanse Desembermaande maak plek vir ‘n somber oujaar in 1974.

Almal weet: Die troepe wat volgende maand vir hulle diensplig “inklaar”, gaan nie net paradegrond-soldate wees wat na enkele weke perfek kan marsjeer met spieëlblink “spoeg-en-politoer” stewels nie. Hulle gaan oorlog maak – “ons seuns” wat die Republiek sal moet veilig hou teen die Kommuniste en teen Swart Afrika. Volgende jaar hierdie tyd sal hierdie “seuns van ons” ook nie almal weer “uitklaar” nie. Sommige – dit wat van hulle mag oorbly – sal in Oranje-Blanje-Blou gedrapeerde kiste lê op kanonwaens, hulle kamerade sal ‘n bevel kry: “Stadige pas – mars!” ‘n Eensame trompet sal die Oggendsinjaal blaas, en hulle sal daarna nog net op foto’s gesien word.

Hulle sal sneuwel in die stryd “vir volk en vaderland”, vir behoud van Blank-Suid Afrika. In hierdie stryd wat bykans geen enkele Afrikaner, klein of groot, geleerd of ongeleerd, ryk of arm aan twyfel nie. Daar word gebid “vir ons manne op die grens”: In eredienste, in Sondagskool-klasse, in kleuterskole, in Laerskole, in Hoërskole, by Vroue Landbou Unie-vergaderings, by kerkraadsvergaderings en die KJA, van die landbou-skou op Putsondergat tot by die opening van Nasionale Party-kongresse: “Wil U ons manne op die grens beskerm en met hulle wees, ons land en ons volk bewaar teen die aanslae van die Bose”.

Wie die handlangers van die Bose hier ter plaatse was, het niemand oor getwyfel nie: Die ANC. Die Kommunistiese Party. SWAPO. Die enkele Wit uitvaagsels soos Beyers Naudé en Helen Suzman. Nelson Mandela en sy kamerade, wat agter die terreur-aanslae van bomontploffings en moorde sit. Van die troppe Witmense wat deesdae “nog altyd teen Apartheid was” en Mandela verafgod, het mens geen teken gesien nie. Dis hoe dit was, dis hoe ieder en elk gedink het in ‘n tyd so onlangs as ‘n oogknip gelede. Party babatjies wat in daardie tye gebore was, is nog maar tieners teen die tyd dat Dirk Hanekom – Beskuldigde 12 – gearresteer word vir hoogverraad.

Dirk Jacobus Hanekom was een van “ons seuns” wat in Desember 1974 sy matriekuitslae gekry, en gewag het vir Januarie 1975 om “in te klaar”. Op 8 Augustus 2012 is die Regter in die Boeremag-saak steeds besig met sy relaas van bevindings wat ondubbelsinnig afstuur op Dirk se skuldigbevinding.

Dirk het erken hy was by die byeenkoms in die Winburg-distrik waaroor oud-Kol. Jan Breytenbach getuig het. En ja, sê Dirk, Breytenbach is reg dat hy wat Dirk is daar gesê het hy is keelvol dat ons uitgemoor word, vir elke moord op plaas moet ‘n taxi “uitgehaal” word. Maar hy het dit nie gesê in die sin dat ‘n staatsgreep uitgevoer moet word nie. Uiteindelik erken Dirk ook in die “B”-weergawe van sy getuienis dat inswerings wel plaasgevind en ede afgelê was.

Die Hof bevind dat hoewel Dirk Hanekom se “B-weergawe” nader beweeg aan die waarheid, gee hy steeds nie toe dat ‘n staatsgreep beplan was nie – maar die bewoording van die inswerings en ede kom juis reeds op hoogverraad neer. Hy was by al die belangrikste byeenkomste, waarin hy ook ‘n leidende rol gespeel het – onder andere die Aartappelskuur-vergadering, die twee by Vryburg in Maart 2002, by “Anatot 1” in Julie 2002 en die “Kopje Alleen”-konvooi van September. Hy het saam met Tom Vorster die “oproep-instruksies” opgestel en ook saam met laasgenoemde die “oorlogsverklaring”, gerig aan die ANC-regering, onderteken. Dit was egter onder vals name (in Dirk se geval: “Jan Brand”), en tesame met die feit dat dit onrealistiese eise stel (byvoorbeeld inkorporering van buurstate in ‘n nuwe Boere Republiek) het dit die ANC-regering basies geen tyd gebied om te reageer nie. Dit, bevind die Hof, bewys dat hulle nooit vreedsame onderhandelings met die Regering in gedagte gehad het nie.

Verder bevind die Hof dat, hoewel Dirk Hanekom en Tom Vorster verskil het oor strategie (laasgenoemde was ten gunste van ‘n konvensionele “blitsveldtog” en Dirk het ‘n lae-intensiteit guerillastryd beoog) het Dirk homself nooit onttrek nie. Nadat die konvooi op Herman van Rooyen se plaas uiteengegaan het, het Dirk saam met Henk van Zyl vir ‘n week lank rondgeswerf totdat hulle huisvesting op ‘n plaas naby Memel in die Vrystaat aangebied is.

Die oggend van 20 September 2002 het Dirk Jacobus Hanekom, soos soveel keer in sy lewe op die grens en in die Weermag, die geluid van naderende helikopters gehoor. Maar hierdie keer was dit nie “eie magte” nie. Hulle het gekom om hom te arresteer.

Wie is Dirk Hanekom?

Gebore in 1956, matrikuleer aan Hoërskool Jeugland in Kempton Park, begin in Januarie 1975 met basiese opleiding in die SA Leër te Voortrekkerhoogte, Pretoria. Voltooi junior leierskursus in die Krygsbehoefte Dienskorps, en sluit by die Staande Mag aan. Hy woon in die 1970’s en 1980’s verskeie grensoperasies by, en was tussendeur gestasioneer by Leër Gevegskool, Lohatla. Op Lohatla het hy uiteindelik SSO (Senior Staf Offisier) Logistiek geword en ook die SSO van die Snelontplooiingsmag. Hy doen “AD”- kursusse soos Vegspan en Veggroep, en uiteindelik die Senior Bevel- en Stafkursus. In 1997 neem hy pakket as volle Kolonel en gaan boer in die Reddersburg-distrik. Hy is gedurende sy aanhouding geskei en sy kinders is reeds volwasse. Geeneen van sy borg-aansoeke deur die jare het geslaag nie.