Boeremag-uitspraak: Dag 11 (Aflewering 2) en Dag 12.

“Konvooie”

Maandag, 6 Augustus 2012 som Regter Eben Jordaan die staatsaak verder op rondom Beskuldigde 11 in die Boeremagsaak – Tom Vorster. Herman van Rooyen, Beskuldigde 18, was saam met Braam van Leeuwen op skool. Hulle was in 1992 ook saam Weermag-toe vir opleiding by 8 SA Infanteriebataljon en later Infanterieskool op Oudtshoorn. Ons was laas op Van Leeuwen se plaas Kopje Alleen in die Nylstroom-omgewing naby Tuinplaas. Die Hof aanvaar sy- en ander staatsgetuies se weergawe:

Die aand van 12 September daag Tom Vorster daar op met ‘n bondel kaarte en konfereer met Dirk Hanekom en Lets Pretorius. Tom laat die manne in die plaasstoor aantree en sê vir hulle daar is geen omdraaikans nie, hy sal die vyand alleen aanvat as dit moet – enigiemand wat wil “uitklim” moet dit doen. Almal bly. Tonne wapens en ammunisie wat die manne gebring het word uitgepak en getel. Van Leeuwen self het net ‘n haelgeweer – ‘n tannie van Sterkrivier gee vir hom ‘n R4 in die hand. Later word alles in die “Lenong”-trok gelaai.

In die vroeë oggend-ure van Vrydag, 13 September 2002 word die manne weer aangetree en beveel om die voertuie in ‘n volgorde agter mekaar te trek aangesien hulle in konvooi gaan beweeg. ‘n Gebed word gedoen. Met sonsopkoms vertrek die konvooi, Tom Vorster voor-aan. Die Hof aanvaar Henk van Zyl se getuienis waarvolgens hulle op pad was na die gehuurde stoor naby die Swart woonbuurt Alexandra, en waar die Avis-voertuie intussen aangekom het. Henk van Zyl se groot tuisgemaakte silinders sou daar met springstof gevul en in die Avis-voertuie geplaas word – om by die teikens wat in Julie geïdentifiseer was, te ontplof.

Terwyl die konvooi met ompaaie, maar hoofsaaklik suidwaarts beweeg, kry Dirk Hanekom glo ‘n “sms”-boodskap uit die Vrystaat van Jurie Vermeulen se pa, Oom Jan: “Stop die operasie – die Polisie wag vir julle”. Bokant hulle word lugverkeer opgemerk. Die konvooi beweeg tot op Herman van Rooyen-hulle se plaas in die Warmbad-distrik; ‘n klomp wapens en bomsilinders word uitgelaai en begrawe; emmers vol springstof in store versteek; en Tom Vorster beveel die manne om te “visgraat”. In klein groepe gaan hulle uiteen.

Daardie Sondag word Lets Pretorius gearresteer. Sy drie seuns kom by Herman aan met die nuus; en die vier stuks – saam met Deon Crous, Braam van Leeuwen en Herman se vriend Rudi Gouws – beweeg na Oos-Transvaal waar hulle met die hulp van Oom Jan Kruger ‘n basiskamp inrig diep in ‘n plantasie op sy plaas. Na ‘n paar dae kom Tom Vorster daar aan met ‘n motorfiets, en vertrek weer na ongeveer ‘n week. Op 4 November 2002 word hy by die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg gearresteer.

Die Hof bevind dat die gebeure by Kopje Alleen geen “oefening” was, soos wat Tom Vorster beweer nie. Verder bevind die Hof dat hy die leier van die Boeremag was: Hy was die outeur van die “oorlogsboekie” (met die ede, nuwe gelofte, beginsels van oorlogvoering, ensovoorts); die een wat range uitgedeel het, die een wat teikens bepaal het. As die konvooi nie gestop het nie, sou daar chaotiese lewensverlies gewees het. Die Hof se slotsom: Thomas Vogel (“Tom”) Vorster word skuldig bevind aan hoogverraad.

Op Dinsdag, 7 Augustus 2012 handel die Hof heeltyd met Tom se “tweede-in-bevel”, Dirk Hanekom. Die byl het nog nie geval nie, maar dit is duidelik dat die “2ib” sy Bevelvoerder se lot gaan deel.

Ná Hof vertrek die Polisie-konvooi met ‘n horde voertuie en rumoerende sirenes wat hoor en sien laat vergaan van die Hof af na die Gevangenis. Groot dele van Suid-Afrika is toegesneeu. Deur ysreën jaag die Njala’s met die Bevelvoerder, sy 2ib en hulle makkers, om nog ‘n snerpend-koue nag in klein selle tussen betonmure tegemoet te gaan.

Wie is Tom Vorster?

Gebore in 1950, opgegroei in Johannesburg, voltooi matriek op 16-jarige leeftyd aan Helpmekaar Hoërskool. In 1968 begin hy met militêre opleiding by Artillerieskool in Potchefstroom, waar sy bevelvoerder ene Kol. Constant Viljoen was. Gekeur vir offisierskursus en word luitenant nog voor hy 20 was by 4 Veld Regiment. Hierna loop hy verskeie kursusse in Bedryfsingeneurswese; en werk onder andere by Krygkor. Intussen bly hy by die Burgermag betrokke (17 Veldregiment). In 1988 is hy na die VSA waar hy uiteindelik ‘n direkteurspos in verkope- en bemarking by ‘n groot maatskappy beklee.

Teen 1993 keer hy na Suid-Afrika terug, sy paaie kruis met die Vryheidsalliansie waar Genls. Viljoen en Tinie Groenewald leidende figure is. Tom Vorster word die Vryheidsalliansie se verteenwoordiger in Amerika. Teen 1998 begin hy sy eie sekuriteitsbesigheid, Ystervuis (Edms)Bpk. Hy is getroud met Annetjie; en het oupa geword sedert hy in aanhouding verkeer.