Boeremag-uitspraak: Dag 10 (Aflewering 2) en Dag 11.

“Ystervuis”

Maandag, 6 Augustus 2012 sit Regter Eben Jordaan sy bevindinge verder uiteen rondom Beskuldigde 11 in die Boeremagsaak – Tom Vorster. In die loop daarvan word die vreemde verhaal van gebeure tydens die eerste nege maande van 2002 opgesom: Tom Vorster (wat op daardie stadium vir bykans almal ‘n nuweling was) word in Januarie op Henk van Zyl se plaas uit die bloute deur Mike du Toit voorgestel as “die nuwe leier”. Van die staanspoor af hou Tom Vorster – eienaar van ‘n sekuriteitsbesigheid in Pretoria met die naam “Ystervuis” – geen maskers voor van “voorbereidings met die oog op verwagte Swart-op-Wit geweld” nie…hy slaan ‘n oogluikend militante koers in.

Die groep kry die naam “Boeremag”, en die lokvink J.C Smith word ‘n “spesmag”-leier wat ‘n klomp bomontploffings sou organiseer as “snellermeganisme”. In Maart, tydens ‘n opvolg-byeenkoms in Vryburg, is onder andere planne beraam om 240 tydskakelaars te vervaardig waarmee kragmaste opgeblaas sou word. Tom Vorster het range aan sekere aanwesiges toegeken met die ou Weermag se kasteel-kentekens daarop.

Daarna, in April, is Mike du Toit en sy broer André asook Koos du Plessis gearresteer; en die feit dat J.C. Smith ‘n Polisie-informant was het bekend geraak. Die Boeremag laat hulle nie daardeur afsit nie. ‘n Verdere drie vergaderings word op Henk van Zyl se plase gehou waar onder meer ‘n “Raad van 7” aangewys was, synde die nuwe leierstruktuur: Tom Vorster, Dirk Hanekom, Lets Pretorius, G.P. (“Vis”) Visagie – wat ook die Boeremag-“kapelaan” was – Herman van Rooyen, Jan Labuschagne en Jan Vermeulen. Lets Pretorius (sy seun Wilhelm was by) het op een so vergadering as “waarnemende hoofregter” opgetree om oor verraaiers soos J.C. Smith en Dirk Mouton te beslis. Die lot is gewerp; wat klaarblyklik op ‘n “neutrale beslissing” geëindig het, en daar is toe besluit om geen teregstellings uit te voer nie.

Hierna verlaat Tom Vorster en Dirk Hanekom hulle huise; en gaan woon op Lets Pretorius se plot naby Potgietersrus – ook bekend as “die kruieplaas”. Toetse word gedoen met tuisgemaakte springstof.

Op 11 Julie 2002 vergader die topstruktuur asook enkele ander persone op Lets Pretorius se plaas “Anatot” in die Potgietersrus-distrik; waar Tom Vorster en Dirk Hanekom (sy tweede-in-bevel) intussen hulle hoofkwartier ingerig het. Tom Vorster word as “tussentydse president” ingehuldig en teikens word geïdentifiseer; byvoorbeeld nasionale- en streekhoofkwartiere van die Polisie, die Johannesburgse Effektebeurs, “Oliver Tambo” lughawe, Shellhouse (ANC-hoofkantoor), groot taxi-staanplekke en die Parlement in Kaapstad. Aanvalle op Weermag-basisse word bespreek; en die daaropvolgende verjaging van volksvreemdes: Die Noord-Kaap s’n na Botswana, die Vrystaat s’n na gebiede in Natal, ensovoorts. Die wat nie wil saamwerk nie sal, ooreenkomstig die bewoording van die “nuwe gelofte”, met die banvloek getref word.

Vervolgens doen Tom Vorster verkenning saam met sekere persone by die geïdentifiseerde teikens. Hy en Dirk Hanekom verskuif hulle hoofkwartier na “Anatot 2”, ‘n plaas in die Vaalwater-omgewing; waar hulle deur Lets Pretorius en sy seuns besoek en bevoorraad word. Tuisgemaakte springstof en handgranate word vervaardig. ‘n “Oorlogsverklaring” – die sogenaamde “blou briewe” (met verwysing na ‘n Siener van Rensburg-visioen) word getik en na koerante gepos. Verder is daar getuienis dat Lets Pretorius lemoene met gif sou “inspuit” wat in lokasies gelos sou word.

Tom gee die Pretoriusse opdrag om Avis-voertuie te huur wat as motorbomme ingespan sou word; en om ‘n perseel te huur waar hierdie motors gestoor kan word. Teen 12 September is dit gedoen; en die betrokkenes trek van laat-middag af saam op Braam van Leeuwen se plaas “Kopje Alleen” in die Nylstroom/Settlers omgewing. Daar is ongeveer 25 manne, outomatiese- en ander wapens soos jaggewere, ‘n stuk of 30 000 R4-rondtes en verskeie ander kaliber patrone, haelpatrone, emmers vol springstof op bakkies, radio’s…

‘n Paar jong manne maak petrolbomme deur bierbotteltjies met brandstof te vul (die bier is net so op die grond uitgegooi!) en die tuite met kondome af te bind. Ander ouens skroef wekkers, wat as tydmeganismes moet dien, op plankies vas. Hope ammunisie en plofstof word gelaai in ‘n trok wat diens doen as mobiele mediese ondersoek-eenheid en behoort aan ‘n maatskappy met die naam “Lenong”. Dis ‘n gewerskaf deur die nag…

(word vervolg).