Barbarisme en haat?

Ses spogperde van mnr. Willie Basson en sy vrou Petro van Muldersdrift aan die Wes-Rand het in die vroeë oggendure lewend in hul stalle verbrand.

Die vermoede bestaan dat die perdestalle aan die brand gesteek is deur ’n aantal werkers wat voorheen by mnr. Basson gewerk het maar sy diens verlaat het weens loon verskille.

Willie (51) en Petro (49) Basson het agt Boerperde op hul kleinhoewe aangehou.

Willie het Sondag omstreeks 04:30 die oggend besef daar is ’n brand by die perde se stalle.

Net twee perde, die tweejarige Sugar en ’n vierjarige hings, Simon, kon uit hul stalle breek en het die brand oorleef.

“Ons stalkneg het vanoggend vir my gesê dit lyk vir hom of iemand aan albei kante van die stalle vuurgemaak het en sodoende gekeer het dat die perde uit hul stalle kon kom,” het ’n geskokte Willie gister gesê.

Willie het onlangs al om die perde se stalle voorbrand gemaak. Die enigste kragprop naby die stalle was ook afgeskakel.

“Ek vermoed iemand het dié ding met opset gedoen om ons seer te maak. Maar watter soort mens doen iets só wreedaardig aan ’n onskuldige dier?