ANC Universiteite?

Akademici aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) is klaarblyklik erg ontstoke oor ’n omstrede ooreenkoms tussen die universiteit en die ANC met die vestiging van ’n ANC politieke skool by die universiteit.

Dumisa Ntuli, die ANC-woordvoerder in Sentraal Transvaal, het gesê die ANC se Walter Sisulu-leierskap akademie sal by die universiteit gevestig word.

“Ons het ’n amptelike vennootskap met die Universiteit. Ons koördineerders sal kantore daar hê. Ons gaan hul geboue gebruik en hulle sal monitor wat ons doen.”

Prof. Deon Geldenhuys, dosent in politieke wetenskap aan die inrigting het gesê ’n vennootskap met ’n politieke party sal “wesenlike gevolge” vir die UJ hê.

“Die universiteit se naam behoort nie gekoppel te word aan ’n politieke party nie. In beginsel is dit ’n baie, baie verkeerde stap.

Die Vryburger het in ’n onderhoud met ’n opvoedkundige verneem dat die ANC/SAKP ten doel het om alle universiteite sodanig in te klee dat dit tot voordeel van die party sal wees wat nou op ’n snelbaan is na algehele kommunisme onder die vaandel van demokrasie.