Wakker die groeityd aan

Dit is Julie – die winter is op sy einde en ons vingers jeuk om in die grond te kom.

Oorplant, aanplant, snoei en spuit – ai, ons voel al die grond tussen ons vingers.

Ons moet net nie te oorhaastig wees nie aangesien ons dalk nog koue kan kry in Augustus. Wag eerder tot die einde van die maand om gevoeliger plante te snoei.

Dit sal ook die beste tyd wees om al jou sierstruike te snoei. Moenie enige doodgerypte gedeeltes afsnoei voordat alle moontlikheid vir ryp verby is nie. Die ligste bietjie ryp sal jou plant dan laat vrek.

Hierdie is ‘n rustyd net voor ons die groeityd ingaan.

Alle bladwisselende vrugtebome moet nou gesnoei en gespuit word. Vrugtebome kan kalkswawel gespuit word.

Plante kan superfosfaat en stikstof-ryke kunsmis toegedien word om so veel as moontlik groei aan te spoor. As die plante sterk groei kan kaliumryke kunsmis weer gegee word- want dit moedig blomvorming aan en dit is presies wat ons wil hê as die lente aanbreek – ‘n pragtuin!

Indien jy groter bome het wat oorgeplant moet word is dit nou die tyd om dit te doen. Maak net seker dat die boom weer dieselfde kant noord en suid “kyk” wanneer dit geplant word. Dit sal die minste steuring op die boom veroorsaak. Dit is ook die beste tyd om nou al jou groot bome aan te plant.

Baie water, kunsmis en ‘n tikkie liefde en ons het voorwaar ‘n tuin om na uit te sien vir die lente.