VOLKSEIE ARBEID IN ʼn VOLKSEIE EKONOMIE – 10 Julie

Ek het dit goedgedink om hierdie week ‘n storie met julle te deel oor iemand wie se besigheid gesetel is in die volksekonomie. ’n Ervaring van iets wat ongelukkig te alledaags geword het.

Iemand wat ‘n volkseie tuindiens besit, vertel my nou die dag van ‘n voornemende kliënt wat hom genader het vir ‘n kwotasie. By navraag oor wat die kliënt gedoen wil hê, word hy meegedeel dat ‘n oop stuk grond se gras effens korter gesny moet word. In goedertrou van die grootte soos deurgegee deur die voornemende kliënt, word die prys vasgestel op R600. Die klant was heel ongelukkig en sê dat die kwotasie veels te hoog is. Na verdere onderhandelinge, wat ingesluit het die verkleining van die area wat gesny moes word, word die prys gestel op R300. Hierdie prys sou insluit twee werkers met bossiekappers wat vir sowat drie ure sou werk aangesien die terrein te klipperig is vir meganiese toerusting soos ‘n trekker.

Met ’n skok moes die Boere-entrepreneur verneem dat die prys steeds te hoog is. Hy besluit toe om aan die persoon te vra hoeveel hy bereid is om te betaal. Die antwoord? Hy is bereid om so R100 te betaal, dit klink vir hom billik, sê hy.

So van my kant af dan net gou ‘n paar sakies. Eerstens moet ek meld dat die plot ter sprake, in Kleinfontein is, dus mag die persoon nie gebruik maak van volksvreemde arbeid nie. Tweedens het die persoon gesê dat hy graag sy eie volksgenote wil ondersteun – ek sou eerder sê bloed uit ‘n klip tap!

Ek nooi elkeen van die lesers uit om gou saam met my ‘n paar somme te maak.

Drie ure se werk deur twee volkseie werkers: +/-R80.
Twee bossiekappers: As mens dit sou huur: +/-R300.
Lyn vir bossiekappers: +/-R20.
Brandstof vir bossiekappers: +/-R50.
Volkseie toesighouer: +/-R50.
Vervoer: Gestel hulle was in die area: +/-R20.
Wins: Volgens bedrae hierbo gemeld: Geen.

Totaal: R520-00.

Dit wil dan voorkom of hierdie entrepreneur, wat die harde pad van ‘n volkseie tuindiens gekies het, teen ‘n prys van R300-00 ‘n enorme verlies sou toon – om van die R100-00 aanbod nie te praat nie!

Die punt is: al moet ons ’n bietjie meer betaal vir ‘n volkseie diens, wat in hierdie spesifieke geval nie eers ter sprake was nie, bly dit die moeite werd want veiligheid, hoë standaard werk gelewer en die wete dat jy werklik jou eie mense ondersteun, weeg baie swaarder as ‘n paar rand.

Volksgenote, u moet asseblief nie ons volkseie besighede probeer uitbyt nie – hulle is juis volkseie uit beginsel en uit oortuiging.