Vir die tuinier – Clivia Minata

Dis weer blomtyd vir die Clivias in u tuin. Hierdie pragtige foto is van die groen blommende Clivias en is die Umsangu 2.

Dit is nogal uitsonderlik mooi.

Ons was mos altyd net die oranje Clivias gewoond en dit was ook al wat ons gesien het in dorpstuine. Daar is egter ’n verskeidenheid kleure gekweek wat op die oomblik by kwekerye en Clivia skoue aangebied word. Daar is ook nou Clivia plante met wit gestreepte plantblare beskikbaar. Dit dra gewoonlik die oranje-kleurige blomme.

Dit is darem ’n pragtige vertoning wanneer hulle so in massas onder die skadubome blom. Clivias is natuurlik baie dorstige plante en hou van skadu en water.

Die geel Clivia-soorte blom baie weelderig in tuine. Mens kan self die sade oopmaak en plant en dit neem nie te lank voordat dit opkom nie, maar kan dalk ’n jaar of wat wees voordat dit blom. U moet net u hande deeglik was nadat u die sade se vliesies afgetrek het.