“Swart Rassisme” sê Bheki Sibiya

Die stigting van die Black Business Council (BBC) is ’n voorbeeld van rassisme wat die land nie vorentoe neem nie, sê Bheki Sibiya, uitvoerende hoof van die Kamer van Mynwese.

Sibiya het ook te velde getrek teen vier senior kabinetslede met hul verbintenis by ’n glinsterende bekendstelling van die BBC verlede week in Midrand. Pravin Gor¬dhan, minister van finansies, was selfs die hoofspreker.

“Ek het ’n gevoel dat rassisme terugkeer – swart rassisme – as ’n reaksie. Die stigting van die BBC is ’n voorbeeld. Iemand het in die vullisblik van die geskiedenis gaan rondkrap en die kwessie, die BBC, daar gekry en dit met prag en praal bekend gestel.” Het hy gesê.

Die kabinetslede wat met die bekendstelling by was, is Tina Joemat-Pettersson van landbou, bosbou en visserye, Mildred Oliphant van arbeid en Ebrahim Patel van ekonomiese ontwikkeling.

“Die kabinetslede wat daar was, staan vir ’n nie-rassige demokrasie, maar vereenselwig hulle met die BBC. Ek dink dis verkeerd,” het Sibiya gesê.

Die tot stand bring van die BBC staan in skrille kontras met die uitlatings van ANC leiers tydens die beleidskonferensie wat verlede week gehou is in Midrand toe daar gevry is na witmense om aan te sluit by die ANC. Die opmerking is gemaak dat daar eers gewerk moet word om die respek van die blankes te verdien voordat wittes sal aansluit.