Skeepsvragte gesteel

Die georganiseerde misdaadeenheid in Durban het beslag gelê op gesteelde goedere ter waarde van meer as R100 miljoen.

Die polisie sê verteenwoordigers van verskillende maatskappye in Brasilië, Chili en China het aanvanklik navrae gerig en toe klagtes gelê nadat vrag-houers in die hawe vermis geraak het.

‘n Polisiewoordvoerder sê die ondersoek het gelei tot die ontdekking van 16 gesteelde vraghouers waarvan veertien op ‘n eiendom in Queensburgh opgespoor is.

Die eienaars van die perseel sê hulle het die houers teen R200 000 per houer gekoop.

Die diefstal van invoergoedere lei daartoe dat buitelandse maatskappye skepties raak om sake te doen met Suid-Afrikaanse maatskappye aangesien die versekering op goedere al duurder word weens die hoë diefstal rekords in die land.