Redaksioneel – Ons veg op vele fronte

Ons veg op vele fronte

Gedurende die afgelope drie eeue het die witman aan die suidpunt van Afrika te doen gehad met die oorheersing en verguising soos maar net die Britse Imperialis dit kan doen.

Die afgelope twee dekades is die Boere-Afrikaner onder die kommunisties gesinde regering vasgevang. Die oorgawe van ’n hensopper wat die volk mislei het met mooi woorde soos die beskerming deur die grondwet, eie woongebiede en eie skole het die breër publiek laat glo wat belowe is.

Dit het volksgenote gedwing om weer die stryd om vryheid te hervat. Hierdie keer sou dit met groter moeite wees want derduisende het reeds die land verlaat omdat daar geen heenkome in hierdie ruwe land is nie.

Die skrywes wat deur die verkose Boere-Afrikaner Volksraad gestuur is aan die ANC regime se president het, behalwe vir ’n ontvangs erkenning, niks meer opgelewer as wat verwag kon word nie. Die ANC wil nie erkenning gee aan die verkose struktuur van die Boere-Afrikaner nie.

Dit is soos die ANC homself oor die afgelope twintig jaar openbaar het. Dit waarvan hy nie hou nie, of dit wat ’n dilemma kan word, of dit wat hy vrees, vermy hy deur te swyg en ’n soort van volstruis politiek te bedryf.

Dit sal die Boere-Afrikaner nie tot stilswye bring nie. Nog minder sal dit ons wil om ons vryheid te herwin, enigsins demp. Dit mag die Boere-Afrikaner Volksraad tydelik belemmer in sy taak, maar die stryd sal toenemende steun werf uit volksgeledere en uit die geledere van ander nasionalisties-gesinde mense elders in die wêreld.

Nou, soos ’n Kruger van weleer, moet volksgenote aansluiting vind by westerse lande.

TLU SA se mnr. Henk van de Graaf is tans in Europa waar hy die nasionaliste van verskeie lande inlig oor wat gaande is in Suid-Afrika. Die feit dat hy ’n verkose lid van die Boere-Afrikaner Volksraad is, gee groter gewig aan die saak wat hy dra in die vreemde.

Soos ’n Hans Strydom van ses dekades gelede kan ons sê : Die stryd duur voort.

Soos ons beweeg op die pad na volksvryheid, sal die wêreld toenemend kennis neem van die wyse waarop daar ’n volksmoord op hierdie klein volk toegepas word. Die wêreldmening verander geleidelik en wêreldleiers raak bewus van die onbetroubaarheid wat ons volk feitlik daagliks beleef.

Daarom duur die stryd om vryheid voort, en daarom sal die stryd op vele fronte voortgaan – en ons weet dat die Vierkleur weer sal wapper!