Presidensie word herdoop

Met die aankondiging deur die ANC regime dat die Presidensie se naam verander na een of ander afgestorwe ANC leier van bykans ‘n eeu gelede, is wye reaksie ontlok deur talle regdenkende mense.

Die algemene gevoel is dat die Presidensie as gastehuis vir buitelandse besoekers bedoel is en derhalwe behoort die naam nie aan ‘n politieke figuur gekoppel te word nie.

Mnr. Johan Willemse van Verre-Noord Transvaal het in ‘n mediaverklaring daarna verwys en gemeld dat die optrede ‘n wanvoorstelling is en ook ‘n verwarde begripsvermoë weerspieël.

Die volledige verklaring lui soos volg:

Volgens die Staat se Inligting en Kommunikasiestelsel sal die president, meneer Jacob Zuma, die Presidensiële Gastehuis, voorheen bekend as die Presidensie, Donderdag 12 Julie 2012 herdoop tot die Sefako Mapogo Makgatho-gastehuis. Makgatho was die tweede president van die A.N.C., en die herbenaming word glo gedoen om sosiale kohesie te bevorder en ‘n gemeenskaplike identiteit en algemene waardes onder alle Suid-Afrikaners te vestig. Wat ‘n wanvoorstelling en verwarde begripsvermoë word hierdeur weerspieël.

Allereers word ‘n partypolitieke figuur vernoem in ‘n gebou wat benut word deur staatsbesoekers aan Suid-Afrika, nie net aan A.N.C. ampdraers nie. Wat ‘n arrogante benadering; die A.N.C. mag die meerderheidsparty wees, maar in die veelpartydemokrasie is daar talle ander politieke partye en in die multikulturele samelewing is daar talle kultuurgemeenskappe wat gelyke beregtiging vra. Die Wetgewende gesag {A.N.C.} is Grondwetlik nie die Regsprekende~ of die Administratiewe gesag nie. Die A.N.C. is egter vermetel genoeg om deur hierdie naamwysiging te impliseer dat Makgatho vir alle Suid-Afrikaners ‘n rolmodel sou wees.

Hul mag Grondwetlik en moreel nie hul wil opdwing aan die gemeenskap in geheel nie. Nogtans laat die bevolking hierdie arrogante benadering oogluikend toe. Min, indien enige besware word gelug. Die Regering van die Dag kan egter kennis neem dat die Afrikaner-kultuurgemeenskap uiters sensitief is teenoor naamsveranderinge. Dit word as kulturele-diefstal geag, aangesien elke naam uit die Afrikanerverlede wat gewysig word, as die ontneming van ‘n deel van ons kulturele erfenis geag word.
Uitgereik deur:

Johan Willemse