Perd stap terug na sy huis

Niks kon hierdie 17 jaar oue perd verhinder om in sy kampie by Kraalkop kleinhoewes buite Kroonstad te kom nie. Pongo het deurgebreek uit die dierepark waar hy slegs ’n paar dae gebly het omdat sy base besluit het hy sal dalk gelukkiger wees om sy oudag tussen ander perde te slyt. Dit was ’n verkeerde besluit.

Pongo het deur die Valsrivier geswem, in die strate afgestap en verby die golfbaan gegaan. Mense wat die perd herken het en probeer het om hom te vang, het misluk want hy het vinnig padgegee. Hy is ongedeerd oor die N1 snelweg en het uiteindelik voor die hek gaan staan en wag dat iemand moet oopmaak sodat hy in sy kampie kan ingaan.

Die Gouws-familie wat die oorspronklike eienaars is, het Pongo hartlik terug verwelkom en besef hulle het ’n oordeelsfout begaan.