Pelindaba onveilig?

’n Inbraak by Pelindaba het toenemende kommer laat ontstaan oor die veiligheid van Suid-Afrika se kernmateriaal.

Volgens die Internasionale Kernkragbedreigingsinisiatief word sowat 600kg wapengraad-uraan in spesiale kluise by Pe¬lindaba geberg – genoeg om 20 kernbomme mee te bou.

’n Woordvoerder van die Nasionale Kernkragreguleerder (NKR), ene Gino Moonsamy het die jongste voorval bevestig, maar dit as ’n “klein voorval” beskryf.

“Ons kan bevestig dat geen van die radioaktiewe materiaal weg is nie. Niemand het eens naby aan die materiaal gekom nie,” het hy gesê.

Volgens Moonsamy bestaan Pelindaba se veiligheidsmaat¬reëls uit verskeie lae. Die maatreëls word dikwels opgegradeer. “Daar is geen rede vir die publiek om bekommerd te wees nie.” Het hy gesê.

Die Vryburger het betroubaar verneem dat die internasionale bekommernis rondom die veiligheid van die RSA se kernmateriaal aan die toeneem is.

Gedurende November 2007 het ’n veiligheidsvoorval voorgekom toe twee groepe inbrekers deur die heining van die terrein gedring het. Hulle het Pelindaba se kragtoevoer af gesny en ook geweet hoe om die alarmstelsels buite werking te stel.

Die VSA het na die voorval aangebied om die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa) se uraan na ’n veiliger plek te verskuif maar Suid-Afrika het dit van die hand gewys.

Tot hede het Necsa in gebreke gebly om ’n amptelike verslag oor die voorval in 2007 of die mees onlangse een beskikbaar te stel.
Die inbrekers van 2007 is nooit aangekeer nie en daar is voorvalle waar mense kernmateriaal probeer verkoop het.

Met die beplanning om kernkragsentrales op te rig in SA is daar beslis rede tot kommer aangesien die land geen goeie rekord opgebou het sedert 1994 nie. Die Koeberg sentrale het ook al sy kwota probleme gelewer en toe is daar eienaardige redes aangevoer deur regeringslui.