Media verkies diere dinge bo bankskandaal

Pleks van oor een van die grootste bankskandale in die geskiedenis te rapporteer, het die Amerikaanse televisienuusnetwerke gekonsentreer op die egskeiding van Tom Cruise, haaistories en ‘n aanval deur ‘n sjimpansee.

Verlede week is berig dat ‘n Gallupopname in Amerika bevind het dat die mense nie meer die massamedia vertrou nie. ‘n Paar dae gelede het koppe begin rol toe aangekondig is dat die president van CNN. Jim Walton bedank het. In die persverklaring is genoem dat hulle ernstig wil besin oor CNN se rol in ‘n veranderende wêreld.

Ofskoon MIT-professor van finansies, Andrew Lo in CNN Money gesê het dat die LIBOR-manipulasie die grootste finansiële skandaal in die geskiedenis van finansiële markte is het ABC, CBS, NBC, CNN, Fox News en MSNBC gesamentlik slegs 12 minute aan die storie gedurende hulle aand uitsendings en meningsprogramme gespandeer.

Oor dieselfde periode, 27 Junie tot 12 Julie, het hierdie kannale egter 65 minute aan stories oor haaie behandel en die aanval op ‘n Amerikaner deur ‘n sjimpansee het gesamentlik 20 minute dekking in spitstyd geniet. Die syfers vir Tom Cruise en Katie Holmes se egskeiding oortref die vorige met 91 minute wat bykans sewe maal meer is as wat oor die Liborskandaal gesê is.

Volgens Andrew Lo gebruik die media baie meer tyd en middele vir onbenullighede en sterskindernuus as sake soos die liborskandaal, wat miljoene mense ernstig raak.