Landbou Minister Tina se siening

“Daar is geen manier waarop ons wit boere sal destabiliseer nie,” het Tina Joemat-Pettersson gesê.

“Ons is vasberade om voedselsekerheid te verseker. Ons het nie nodig om die Grondwet te verander nie.”

Die beginsel van gewillige koper/verkoper sal nie meer die bepalende faktor wees om grondpryse vas te stel nie. Daar sal na Art.25 van die Grondwet se bepalings oor onteiening gekyk word wanneer ’n dispuut oor grondpryse mag ontstaan.

In die finale instansie sal die hof dan besluit wat ’n redelike bedrag vir die grond is.

Joemat-Pettersson het gesê daar is baie druk op die ANC om voor die einde van die beleidskongres ’n plan te beraam oor hoe om grondhervorming te bespoedig.

In ’n onderhoud het ’n lid van TLU SA aan “Die Vryburger” gesê dat die mooi broodjies wat gebak word slegs tydelike verligting bring. Hy is van mening dat nuwe norme sal geld om grondpryse te bepaal en dat dit sodanig sal wees dat howe oorspoel gaan word met sake. Daar bestaan ook die moontlikheid dat die pryse so laag kan wees dat die gedwonge verkoop die enigste uitweg is omdat hofsake nie goedkoop is nie.

Die landbou is reeds gedestabiliseer met die groot aantal plaasaanvalle en moorde op landbouers terwyl die regering nie bereid is om spesiale reëlings te tref om die landbouers en hulle werkers te beskerm nie. Die honderde boere wat reeds die landbou bedryf in Suid-Afrika verlaat het om elders in Afrika of selfs in Georgia te gaan boer is sekerlik ’n bewys van die toestande in die land.