Inry-teater sluit sy hekke

Die tyd van inry teaters het verby gegaan. Hierbo is ’n foto van die laaste fliek wat vertoon word in die Velskoen inry by Randburg wat na verlede Saterdag nie weer sy hekke sal oopmaak nie.

Sowat 400 motors het vir oulaas die inry besoek. Die perseel is verkoop en sal eersdaags van gedaante verander wanneer die nuwe ontwikkeling begin.

Hierdie inry-teater is waarskynlik een van die heel laastes in Suid-Afrika. ’n Gereelde besoeker aan die inry het aan “Die Vryburger” gesê dat dit ’n aand gevul met nostalgie was wat baie na sakdoeke laat gryp het.