Grap of erns?

‘n Stad in Frankryk eis die Britse Kroonjuwele as kompensasie vir die moord op die laaste Plantagenet-aanspraakmaker van die troon.

Angers in die Loirevallei wes van Parys, was eens die hoofstad van die Anjou-provinsie en setel van die Huis van Plantagenet wat Engeland van 1154 tot 1485 regeer het. Van die beroemde Engelse konings uit hierdie huis was o.a. Richard the Lion Heart en ook Henry V.

Met die moord op Edward Plantagenet, die Hertog van Warwick in 1499 is die bloedlyn tot niet. As vergoeding vir die onthoofding van Edward eis Angers dat die Kroonjuwele van Engeland as restitusie aan Angers oorgedra word, aldus ‘n petisie op die stad se amptelike webblad.

Die stad glo dat Engeland hulle ‘n verskoning en kompensasie skuld vir die 24-jarige Edward se onregverdige en aaklige dood aan die hande van skurke in diens Henry VII, die eerste Tudor-koning van Engeland.

Vergoeding vir die onreg wat 513 jaar gelede gepleeg is, sal in die biljoene beloop, maar Angers is bereid om die kroonjuwele as volle vereffening van die skuld te aanvaar.

Of dit grap of erns is, is moeilik te bepaal. Dit is egter iets waaraan ons ook kan dink as ons geld benodig vir die totstandkoming van ons Volkstaat. Dit is hoogtyd dat die Cullinan-diamant aan ons terugbesorg word.
———

“Die Vryburger” is egter van oordeel dat hierdie een of ander grapjas se gedagtes is aangesien die media oor die algemeen redelik stil is oor die aangeleentheid.
Redakteur